N. P. van Wyk Louw

www.boerafrikana.com: Tuisblad > Foto Album

N.P. Van Wyk Louw


Foto: goodreads.com

 

 

 

Gedigte

Afskeid

Die Beiteltjie

Die Boodskap aan Maria

Dat alle Liefde

Die Liefde in My

Grense

My Venster is 'n blanke vlak

Nagreën

Nog in my laaste woord

Vroegherfs

Winter

 

N.P. van Wyk Louw

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.

Nicolaas Petrus van Wyk Louw (11 Junie 1906 - 18 Junie 1970) was 'n Afrikaanse digter, akademikus en dramaturg.

Lewe

Louw is op 11 Junie 1906 in Sutherland in die ou Kaapprovinsie gebore. In 1920 verhuis die Louw-gesin na Kaapstad waar hy sy skoolloopbaan voltooi. Ná hy sy skoolloopbaan voltooi het, studeer Louw filosofie en Duits in Kaapstad en word hy vir ’n tyd lank onderwyser, waarna hy doseer in opvoedkunde aan die Universiteit van Kaapstad.

In 1930 trou Louw met Joan Wessels. Die huwelik word egter na agt jaar beeïndig. Van Wyk Louw is later met Truida Pohl getroud. In 1948 aanvaar Louw 'n pos as hoogleraar in die Suid-Afrikaanse letterkunde, geskiedenis en kultuur aan die Universiteit van Amsterdam. Hy emigreer na Nederland waar hy tot en met 1958 saam met sy gesin woonagtig was. In 1948 ontvang hy 'n eredoktorsgraad van die Universiteit van Utrecht. Met sy terugkeer vestig die Louw-gesin in Johannesburg waar Van Wyk Louw vanaf 1960 as hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand dien.

N.P. van Wyk Louw sterf op 18 Junie 1970.

Dig- en skryfkuns

Louw dig aanvanklik in Engels, maar deur die invloed van sy jonger broer, die digter W.E.G. Louw, publiseer hy in 1935 en 1937 die bundels Alleenspraak en Die halwe kring. Dié werke word saam met die epos Raka en die drama Germanicus as sy beste werke beskou. Vanweë sy groot bydrae tot die tydperk van Dertig word Van Wyk Louw as een van die hooffigure van die sogenaamde "Dertigers" beskou.

Die skrywer Karel Schoeman beskryf Louw as Suid-Afrika se grootste digter "en een van die min figure van wêreldformaat wat hierdie land nog opgelewer het". Die Suid-Afrikaanse komponis, Cromwell Everson, het drie van Louw se gedigte in sy Vier liefdesliedjies gebruik: Nagliedje, Net altyd jy, en Dennebosse.

Louw word saam met C. J. Langenhoven aangehaal op die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Die aanhaling van Louw lui:

Cquote1.svg Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind... Dit vorm 'n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika... En wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek. Maar wat ons nooit moet vergeet nie, is dat hierdie verandering van land en landskap as't ware aan die nuwe wordende taal geslyp, geknee, gebrei het... En so het Afrikaans in staat geword om hierdie nuwe land uit te sê... Ons taak lê in die gebruik wat ons maak en sal maak van hierdie glansende werktuig...
Cquote2.svg

Bibliografie

  • Alleenspraak (1935)
  • Berigte te velde : opstelle oor die idee van 'n Afrikaanse nasionale letterkunde (1939)
  • Lojale verset : kritiese gedagtes oor ons Afrikaanse kultuurstrewe en ons literêre beweging (1939)
  • Raka (1941)
  • Die dieper reg : 'n spel van die oordeel oor 'n volk (1947)
  • Dias : 'n hoorspel (1952)
  • Nuwe Verse (1954)
  • Germanicus (1957)
  • Liberale nasionalisme : gedagtes oor die nasionalisme, liberalisme en tradisie vir Suid-Afrikaners met 'n kulturele nadrup (1958)
  • Dagboek van 'n soldaat : 'n hoorspel (1961)
  • Tristia (1962)
  • Berei in die woestyn : n sinne- en wa-spel (1968)
  • Blomme vir die winter : 'n hoorspel (1974)
  • Deurskouende verband (1977)

Verwysings

  1. ^ Lindenberg, E., et al. Inleiding tot die Afrikaanse Letterkunde. Pretoria en Kaapstad: Vyfde uitgawe, 1980.

Bronnelys

  • Human en Rousseau - NP van Wyk Louw
  • Olivier, Gerrit. N.P. van Wyk Louw. In: Van Coller, H.P. (red.). 1998. Perspektief en Profiel. Deel I. Pretoria: J.L. van Schaik: 615-635, ISBN 0627023460.

Die teks is beskikbaar onder die Creative Commons Erkenning-Insgelyks Deel lisensie. Dit is moontlik dat aanvullende voorwaardes van toepassing is. Sien die Algemene Voorwaardes vir meer inligting


teks erkenning aan http://www.nb.co.za/authors/330 besoek op1 Januarie 2015

NICOLAAS PETRUS (N.P.) VAN WYK LOUW is op 11 Junie 1906 op Sutherland gebore. Hy voltooi sy skoolloopbaan in Kaapstad. Hy studeer Duits en Filosofie aan die Universiteit van Kaapstad en word in 1929 daar dosent in die Opvoedkunde. In 1948 word hy aangestel as hoogleraar in die Suid-Afrikaanse letterkunde, geskiedenis en kultuur aan die Universiteit van Amsterdam, ’n posisie wat hy tot en met 1958 beklee. Van 1960 tot met sy dood in 1970 is Van Wyk Louw hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Hy debuteer in 1937 met die digbundel Alleenspraak, waarvoor hy die Hertzogprys vir poësie ontvang. Hy het daarna nog vier keer die Hertzogprys ontvang, die laaste keer was in 1965 vir sy bundel,Tristia.

Van Wyk Louw se bekendste gedigte sluit in “Grense”, “Die beiteltjie” en die epiese gedig, Raka, en van sy bekendste dramas isGermanicus en Die pluimsaad waai ver.

N.P. van Wyk Louw is op 18 Junie 1970 op 64-jarige ouderdom in Johannesburg oorlede. Hy word as die belangrikste digter van die Dertigers beskou en is beslis een van die grootstes wat Suid-Afrika nog opgelewer het.

Het jy geweet?  

  • Hy was die ouer broer van die digter W.E.G. Louw, wat in 1934 die Hertzogprys vir poësie vir sy digbundel, Die ryke dwaas, ontvang het.
  • In 1937 het N.P. van Wyk Louw (op ’n jeugdige 31 jaar) geweier om die Hertzogprys vir Alleenspraak met I.D. du Plessis (virVreemde Liefde en Ballades) te deel. Volgens ’n artikel in Die Burger was Louw en sy broer W.E.G. Louw vernuwers en die voorlopers van die Dertigers. Vir Van Wyk Louw was dit dus ’n klap in die gesig om die prys met een van die “ouer” digters te moes deel. Van Wyk Louw het die Hertzogprys daarna wel nog vier keer ontvang.

Boeke steeds in druk

Versamelde gedigte, Tafelberg/Human & Rousseau (2002)

Bekronings

Hertzogprys vir poësie (1937) – Alleenspraak
Hertzogprys vir poësie (1940) – Die halwe kring
Hertzogprys vir kritiese prosa en essay (1958) – Die mens agter die boekMaskers van die ernsLojale verset en Berigte te velde
Hertzogprys vir drama (1960) – Germanicus 
SAUK-prys vir ’n hoorspel (1961) – Dagboek van ’n soldaat
CNA-prys (1962) – Tristia 
Hertzogprys vir poësie (1965) – Tristia
Eredoktorsgraad van Rhodes Universiteit (1966) 
Eredoktorsgraad van die Universiteit van Stellenbosch (1966) 
Eredoktorsgraad van die Universiteit van Kaapstad (1966)

Lys van publikasies

Poësie en prosa
1935 Alleenspraak, Nasionale Pers
1937 Die halwe kring, Nasionale Pers
1941 Raka
1942 Gestaltes en diere, Nasionale Pers
1954 Nuwe verse, Nasionale Boekhandel
1958 Liberale Nasionalisme: Gedagtes oor die Nasionalisme, Liberalisme en tradisie vir Suid-Afrikaners met ’n kulturele nadrup, Tafelberg
1961 Vernuwing in die prosa: grepe uit ons Afrikaanse ervaring, Academica
1962 Tristia en ander verse, voorspele en vlugte, Human & Rousseau
1970 Rondom eie werk, Tafelberg
1972 Opstelle oor ons ouer digters, Human & Rousseau
1981 Versamelde gedigte, Tafelberg / Human & Rousseau
1982 Drie hoorspele, Human & Rousseau
1982 Skietlood, Human & Rousseau
1986 Versamelde prosa I, Tafelberg
1986 Versamelde prosa II, Human & Rousseau

Essays
1939 Berigte te velde: opstelle oor die idee van ’n Afrikaanse nasionale letterkunde, Tafelberg
1939 Lojale verset: kritiese gedagtes oor ons Afrikaanse kultuurstrewe en ons literêre beweging, Tafelberg

Literêre teorie
1956 Die mens agter die boek, Nasionale Boekhandel
1958 ’n Wêreld deur glas, Nasionale Boekhandel
1961 Vernuwing in die prosa

Drama
1938 Die dieper reg: ’n spel van die oordeel oor ’n volk, Tafelberg
1952 Dias: ’n hoorspel, Nasionale Boekhandel
1956 Germanicus, Tafelberg
1963 Koning-Eenoog of Nie vir geleerdes (prosadrama)
1961 Dagboek van 'n soldaat: ’n hoorspel 
1962 Die held, Perskor
1962 Lewenslyn: ’n hoorspel, Simondium Uitgewers
1964 Kruger breek die pad oop en ander hoorspele
1965 Asterion (radiofoniese opera)
1968 Berei in die woestyn: ’n sinne- en wa-spel, Tafelberg
1972 Die pluimsaad waai ver of bitter begin, Human & Rousseau
1974 Blomme vir die winter: ’n hoorspel, Human & Rousseau
1979 Die held, Perskor

Oor NP van Wyk Louw
1988 Gedagtes vir ons tyd: uit die prosa van N.P. van Wyk Louw(saamgestel deur P.A. Joubert), Tafelberg
1989 Verborge vuur: 'n keur uit die korter poësie van N.P. van Wyk Louw (saamgestel deur P Louw), Tafelberg
1994 Die mooiste van Van Wyk Louw (saamgestel deur P. Louw), Human & Rousseau.

Uittreksel uit resensie

“Die Versamelde gedigte van N.P. van Wyk Louw bevat poësie wat vergelyk kan word met die beste van hierdie eeu. Die onbetwisbare grootsheid van Louw se poësie onderskraag my geloof dat Afrikaans in die volgende eeu nie uitgewis sal word nie.”
– Audrey Blignault, Die Burger (1999)

teks erkenning aan http://www.nb.co.za/authors/330 besoek op1 Januarie 2015

bo-aan bladsy
Hoofblad