C.J. Langenhoven was vir Afrikaans 'n voorvegter
IN 1912 het C.J. Langenhoven hoofredakteur van 'n Nederlands-Engelse blad, Het Zuid-Westen, geword.
Hy het sy blad egter Afrikaans gemaak en hom daardeur beywer vir die erkenning van Afrikaans as
opvoedkundige en amptelike taal van die Afrikaner.
In 1914 is Langenhoven
onbestrede tot lid van die Kaapse Provinsiale Raad verkies. Op 23 April 1914, drie weke ná die aanvang van
die sitting, slaag hy daarin om die raad eenparig te laat besluit dat moedertaal-onderwys ook vir die
Afrikaanse kind beskikbaar moet wees.
Hy stuur toe 'n telegram aan sy
koerant Het Zuid-Westen op Oudtshoorn. Die man wat in Langenhoven se plek as redakteur waargeneem het,
skryf soos volg in die koerant: "Vandese nommer het ik weer nie 'n inleidings-artikel ontvang nie
vir die geagte lesers. Die editeur het dit nie gestuur nie en ik het dit nie ontvang nie. Ik bied,
inplaas daarvan, die volgende telegram aan wat ik om half-ses vandag ontvang het: "Van Langenhoven.
Provinsiale Raad het my mosie aangeneem wat Afrikaans toelaat als permissiewe medium tot en met die
4e standaard.' "
Langenhoven is in 1925 as senator aangewys.
Daarna lei hy 'n komitee bestaande uit drie senatore en drie Volksraadslede wat benoem is om 'n
oplossing te kry vir die probleem of Afrikaans in die Parlement vir alle doeleindes, ook vir die
opstel van wette, behoort ingestel te word, en indien wel, hoe.
Hulle
het besluit om aan te beveel dat die Unie Wet gewysig word om onder die term Nederlands (soms
verkeerdelik "Hollands" genoem) ook "Afrikaans" in te sluit en voortaan alleenlik
Afrikaans te gebruik.
'n Nuwe wet (No. 8 van 1925) is op versoek van
Langenhoven opgestel en is eenparig op 'n gesamentlike sitting van die Senaat en Volksraad op 8 Mei 1925
aangeneem.
Hierna was Afrikaans en Engels die erkende amptelike
landstale van Suid-Afrika.
Met erkenning aan Die Burger