|
Dirkie Uys |
www.boerafrikana.com: Tuisblad > Verklarings |
Dirkie Uys Die datum is 10 April 1838. Die uur van beslissing het geslaan. Dit was nou of nooit. Piet Retief en sy klein kommando is uitgemoor tydens die onderhandelings met Dingaan, die koning van die Zoeloes. Moord en verskrikking het hierop gevolg. Die Voortrekkers was op hul laaste. Dirkie Uys, kinderheld van die Groot Trek
Y aan sy sneuwel hulle… die Voortrekkerleier en sy dapper jong seun, wat botweg geweier het om sy sterwende pa op die slagveld agter te laat en te vlug, soos sy pa hom beveel het om te doen. Só lui die heldeverhaal oor Dirkie Uys, tienerseun van Piet Uys, in een van die aangrypendste gebeurtenisse in die veelbewoë lotgevalle van die Trekkers: die Slag by Italeni, in die huidige KwaZulu-Natal. Geskiedkundiges verskil kennelik oor hoe oud Dirkie was op daardie droewige dag in April 1838, want sy ouderdom word deur verskillende bronne as twaalf, dertien en vyftien aangegee. Verskeie van die ou bronne stel dit egter op slegs twaalf jaar. Nadat die Voortrekkerleier Piet Retief en sy manne in Februarie 1838 deur die Zoeloe-koning Dingane om die lewe gebring was, is Voortrekkers elders ook deur die Zoeloes aangeval en gedood. Dit was ’n donker tyd vir die verpletterde Trekkers, van wie die meeste met alle geweld uit Natal wou padgee. Die Voortrekkervroue het egter voet by stuk gehou dat hulle nie Natal sou verlaat voordat Dingane gestraf is nie. Hierdie Natalse Voortrekkers het ’n beroep op Trekkers elders gedoen om hulle te help, veral op die trekke van Piet Uys en Andries Hendrik Potgieter in die Vrystaat. Ná ’n onenigheid oor watter leier die strafekspedisie teen die Zoeloes moes lei, is besluit dat Uys en Potgieter met gelyke status elk in bevel van sy eie kommando sou wees—iets wat uit ’n militêre oogpunt gesien ’n groot flater was. Uys se seun Dirkie was ook in sy pa se kommando en saam het hulle in die voorste geledere geveg. Die tragiese uiteinde was dat Uys dodelik gewond was deur ’n assegaai terwyl hy twee van sy vasgekeerde manne te perd wou gaan red. Die reddingsgeselskap moes noodgedwonge vlug, en Uys het verskeie kere van sy perd afgeval omdat sy kragte vinnig afgeneem het. Oplaas het hy finaal van sy perd afgegly—of gevra dat die ander manskappe hom op die grond moes neerlaat—en het hy hulle en Dirkie aangesê om hulself te probeer red. Oor presies wat daarna gebeur het, verskil die historiese verslae. Volgens die een weergawe sou Dirkie, wat reeds saam met die meeste van vlugtendes ’n ent voor sy pa gery het, teruggekyk en gesien het hoe die Zoeloes op sy sterwende pa toesak. Hy sou sy perd omgeswaai en gestorm het met die uitroep dat hy saam met sy pa sou sterf. Hy sou drie Zoeloe-krygsmanne geskiet het, voordat hy met assegaaisteke van sy perd gedwing is. Dirkie sou langs pa geval het waarna altwee doodgesteek is. Volgens ’n ander weergawe is dit egter waarskynlik dat hy nie eers aanstaltes gemaak het om sy pa alleen aan die Zoeloe-krysmanne oor te laat nie, maar uit die staanspoor langs sy pa stelling ingeneem het om weerstand te bied, voordat hy ook deur die Zoeloes oorweldig is. Een ekspedisielid het selfs vertel dat Dirkie eerste doodgesteek is en sy pa net daarna. Die oorlewendes het so vinnig as moontlik na die Buffelsrivier teruggetrek en die Zoeloes het die agtervolging ná ’n tydjie gestaak. ’n Derde weergawe van die Dirkie Uys-verhaal wil dit weer hê dat hy en ’n ander jeugdige besig was om agter te raak onder die vlugtendes toe hulle met hul perde ’n waterstroom moes oorsteek waar die riete kol-kol dig aan die oewers gegroei het. ’n Aantal Zoeloes het hulle in die water aangeval. Die ander jeugdige het ontsnap, maar Dirkie se perd het gegly en hy kon nie wegkom nie. Ná die Slag by Bloedrivier, toe die Trekkers Dingane se mag gebreek het, is die oorskot van Piet Uys deur Trekkers gevind wat daarna gaan soek het. Dirkie s’n is egter nooit gekry nie. Een storie dat sop van sy lyk gekook en gedrink is, is bes moontlik niks meer as ’n versinsel nie. Maar soos een navorser dit stel: “Laat ons nooit vergeet dat die betreklike vrede en gees van naasbestaan wat ons vandag in hierdie mooi land ervaar, meer as ’n eeu en ’n half gelede ook met kinderbloed gekoop is nie.”
|