Groot Trek Gerrit Maritz
Gerrit Maritz

Gerrit Maritz

www.boerafrikana.com: Tuisblad >

Oorsake van die Groot Trek
 
Groot Trek leiers
Andries Pretorius

 

 

Gerrit Maritz

 

 

Hendrik Potgieter

 

 

Karel Landman

 

 

Louis Trichardt

 

 

Piet Retief

 

 

Sarel Cilliers

 

 

Piet Uys
 

Gerrit Maritz

http://www.flickr.com/photos/kleinz/2700096115/

photo by Clive Reid

GERHARDUS MARTHINUS (GERRIT) MARITZ was ’n uitmuntende wamaker en een van die vermoëndste manne op Graaff-Reinet voordat hy met sy trek van honderd waens en sewehonderd mense die beskawing vir die destydse wildernis verruil het.

Volgens die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek het die beste en mooiste waens uit sy wamakery gekom. Dit is byvoorbeeld bewys deur sy eie sewe spoggerige kakebeenwaens waarmee hy op trek gegaan het: blou geskilder en nie met die ronde tente van die gewone kakebeenwaens nie, maar met platboog- of kaptente, wat hulle ’n mooier fatsoen gegee het.

Die produkte van sy wamakery was tekenend van die man self: ’n baie presiese persoonlikheid.

Maritz (gebore in Maart 1797 in die distrik Graaff-Reinet en oorlede in sy vroeë veertigs op 23 September 1838 in Natal) was vir sy tyd ’n belese en ontwikkelde persoon. Soos in Die Huisgenoot se Gedenkuitgawe van die Groot Trek in Desember 1938 vertel word, was hy groot en fris gebou, met ’n donkervaal baard.

Daar bestaan geen portret van Maritz nie. Ons illustrasie hierbo is grotendeels gegrond op ’n denkbeeldige portret wat op kontemporêre beskrywings van die trekkerleier gebaseer is. (SA Biblioteek.)

Toe hy 22 was, het Maritz met die vyftienjarige Angenitha Olivier getrou, wat hom vier seuns en twee dogters geskenk het.

As Voortrekkerleier was daar soms die onverkwiklike botsings tussen hom en Potgieter en Uys, maar dan is mense met sulke sterk persoonlikhede ongelukkig ook dikwels minder buigsaam van gees.

Maritz het nietemin by sy tydgenote bekend gestaan as ’n godvresende man wat sy medemens gehelp het waar hy kon. Ofskoon hy kortgebonde was, het hy van ’n grap gehou en kon hy hartlik lag. Hy was dan ook die leier na wie die trekkers in Natal opgesien het in hul donkerste uur nadat Retief op Hloma Amabutho gedood is, Uys gesneuwel het en Potgieter Transvaal toe uitgewyk het. Maar dit sou Maritz nie beskore wees om sy mense in die deurslaggewende oorwinning aan te voer nie.

Liggaamlik verswak, het hy om elfuur daardie Septembernag in sy laer aan die oewers van die Klein Tugela gesterf. Op sy lippe was dié sugting: “Dit het met my gegaan soos Moses, ek het die beloofde land gesien, maar bewoon sal ek dit nie.”

Dit het berus by ’n man soos Andries Pretorius—wat uit die Kaapkolonie gekom het ten einde hom by die trekkers aan te sluit—om te voltooi wat Maritz en andere aangevoor het.

Gert Maritz se trek

Maritz se geselskap vertrek van Graaff-Reinet en volg 'n noordoostelike rigting, oos van die huidige dorpe Middelburg en Steynsburg verby, daarna deur die westelike deel van die huidige distrik Burgersdorp om die Oranjerivier by Sanddrif -'n paar myl oos van die sameloop van die Stormbergspruit met die Oranje - te bereik. Hiervandaan trek hulle noordwaarts oor die Caledonrivier en dan weer effens noordoos na Thaba Nchu, waar hulle op 19.11.1836 aankom.

Gedurende die volgende byna twee jaar beweeg die trek ongeveer soos volg: noordwaarts en noordooswaarts na Vetrivier, waar die dorp Winburg sou ontstaan; nog verder noordoos, oor Sandrivier en Valsrivier; dan oos van Vegkop (by die teenswoordige Heilbron) verby, oor die Vaalrivier na Suikerbosrand (by die teenswoordige Heidelberg); vervolgens weer oor die Vaalrivier suid-waarts, om die Drakensberge by De Beerspas oor te gaan; verder oor die boloop van die Tugela, en ten slotte na die Klein Tugela, waar Maritz die laaste keer sy laer inrig aan die einde van 'n lang en uitgebreide tog wat die suidoostelike deel van Suid-Afrika deurkruis het.

By Sanddrif aan die Oranjerivier (Grootrivier) bereik die eerste tyding hom van die moord wat die Matebele op die Liebenbergs aan die Vaalrivier gepleeg het. Daarna ontmoet hy Andries Hendrik Potgieter en sy geselskap. Van hulle verneem hy van die slag by Vegkop in Oktober 1836 toe die Potgietermense al hul vee verloor het. Hierdie berigte spoor hom aan om vinniger voort te trek en noodlydendes te help.

By Thaba Nchu verkies die Voortrekkers aan die begin van Desember 1836 hul eerste bestuur met Maritz as voorsitter en hoof van die bestuur; Potgieter word laerkommandant. Maritz en Potgieter onderneem hul bekende tog teen die Matebele van Mzilikazi wat uitloop op die triomf van Mosega (17.1.1837). Na die slag voeg Piet Retief hom aan die einde van Maart 1837 by die Voortrekkers. Op 17.4.1837 word die tweede Voortrekkerbestuur verkies. Retief word 'goeverneur' terwyl Maritz 'magistraat' bly.

Sowat vyf maande later trek Retief na Natal terwyl Potgieter en Maritz se neef, G. J. Rudolph, 'n tweede ekspedisie teen Mzilikazi onderneem. Binne 'n maand is die eerste kommandomense by Suikerbosrand terug om aan Maritz, wat siek geword het, die nuus te bring dat die veldtog suksesvol was.

Maritz was ten gunste van Natal as bestemming van die Trek, en nou besluit hy om ook oor die Drakensberge na Natal te gaan en hom daar by Retief aan te sluit. In Noord-Natal beraam hy en Retief planne vir die finale sending na die Zoeloe-koning, Dingane. Hulle het egter ernstige meningsverskille oor die besoek: Retief wil met 'n redelike groot kommando gaan, om 'n indruk op Dingane te maak, terwyl Maritz verraad vrees en ernstig, dog vergeefs, pleit dat Retief slegs 'n paar man moes neem. Op die tragedie van die moord op Retief en sy manne (6.2.1838) volg die Groot Moord wat in die vroeë oggend van Saterdag, 17 Februarie, onder die verspreide Voortrekkers by Bloukransrivier en Moordspruit deur Zoeloe-impies aangerig word. Maritz slaag daarin om sy eie trekgeselskap bymekaar hou en 'n Zoeloe-aanval op sy laer met groot sukses af te slaan.

Maritz word vir sy mede-Trekkers 'n ware bron van krag. Hy help noodlydendes, hy praat mismoediges weer moed in, hy oefen noodsaaklike administratiewe en bestuurs-funksies uit en hy verleen ook weer hulp om 'n verwoede Zoeloe-aanval op Veglaer af te slaan. Hy neem die eerste stappe ter voorbereiding van A.W.J. Pretorias se kommando wat (na Maritz se dood) as die 'Wenkommando' bekend sou staan. Teen die middel van September 1838 word Maritz ernstig siek in sy laer op die oewers van die Klein Tugela en sterf op die derde Sondag van dieselfde maand.

Daar bestaan geen portret van Maritz nie. Sy oorskot is van Maritzdam aan die Klein Tugela oorgebring en op 16.12.I895 herbegrawe digby die Bloukrans-monument, vier myl suidoos van Chieveley, Natal.

teks met erkenning aan http://www.groottrek.co.za/trek_02.htm besoek op November 21, 2010

 

 
Voortrekker Pass is east of the Sterkfontein Dam, off the R74

photo Google earth panoramio, by lioneldp (visited Oct 24, 2010)

At Voortrekker Pass there is a monument of a woman walking away from Natal. This is in memory of Susanna Smit, sister of Gert Maritz, who declared that she would rather trek barefoot back over the Berg than live in Natal under British rule. Located in Voortrekker Pass near Bergville.
bo-aan bladsy
Hoofblad / Web meester