Andries Hendrik Potgieter, Groot Trek leiers

Andries Hendrik Potgieter

www.boerafrikana.com: Tuisblad > Mense > Groot Trek Leiers

Oorsake van die Groot Trek
 
Groot Trek leiers
Andries Pretorius

 

 

Gerrit Maritz

 

 

Andries Hendrik Potgieter

 

 

Karel Landman monument

 

 

Louis Trichardt

 

 

Piet Retief

 

 

Sarel Cilliers

 

 

Piet Uys
 

ANDRIES HENDRIK POTGIETER, wie se trek van tweehonderd siele die eerste georganiseerde trek uit die Kolonie was, was in die distrik Tarka, waar hy gewoon het, ’n man van aansien.

Sy trek, wat uit mense uit die distrikte Tarka en Colesberg bestaan het, het net voor die winter van 1836 in die omgewing van die Vetrivier in die latere Vrystaat aangekom.

Volgens die beskrywing van tydgenote was Potgieter ’n groot man, sterk gebou en met ’n indrukwekkende voorkoms. Sy baard en hare was donkerbruin met ’n rooi skynsel, en een bron verwys na die breërandhoed wat hy in die week gedra het, maar ’n hoëbolkeil met plegtighede.

Die illustrasie hierbo is gegrond op sekere van daardie inligting, maar ook grootliks op ’n skets wat heel moontlik in 1837 gemaak is. Daar word gesê dat hy ’n man was met ’n goeie insig van sake en wat ook geweet het om gehoorsaamheid van sy onderhoriges af te dwing; hy het nie maklik teenstand geduld nie.

Potgieter is op 19 Desember 1792 in die distrik Graaff-Reinet gebore, en drie dae voor sy sestigste verjaardag op 16 Desember 1852 op Schoemansdal, Soutpansberg, oorlede. In die Suid-Afrikaanse geskiedenis staan sy verskille met en verwydering van ander trekkerleiers voorop.

En tog, sonder om op die besonderhede in te gaan, kan sy enorme aandeel in die oopstellling van die binneland nooit oor die hoof gesien word nie.

Die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek beskryf hom as ’n omstrede figuur wat deur veel bewierook en deur eweveel veroordeel is, maar verklaar ook dat die waarheid waarskynlik tussen hierdie uiterstes lê.

Hy was bedeeld met ’n kragtige persoonlikheid en natuurlike leierstalente wat hom by uitstek die temmer van ’n woeste land gemaak het.

Potgieter was vier maal getroud en het sewentien kinders gehad, van wie twee by geboorte dood is.

Hy sou nog die erkende vryheid van Transvaal as Boererepubliek geniet, maar dit sou hom nie lank gegun word nie. Lang reise te perd, die spanning van menige veldtog en die borswater het sy kragte uitgeput. Hy is op Schoemansdal begrawe.
  
Potgieter was die stigter van die dorp Mooiriviersdorp of Vryburg, wat later hernoem is tot Potchefstroom—“Pot” vir Potgieter en “chef” vir die leier wat hy inderdaad was.

bo-aan bladsy
Hoofblad / Web meester