Vegkop veldslag, Groot Trek, Voortrekkers

Vegkop

www.boerafrikana.com: Tuisblad >

Die Slag by Vegkop (16 Oktober 1836)

Die Trekkers besef dat Mzilikazi nie die nederlaag sal duld nie en tref dus voorbereidings op verdere aanvalle deur die Matabele. Op 15 Oktober kry hulle tyding van 'n naderende impi wat reeds die Vaalrivier oorgesteek het. 'n Sirkelvormige laer met veertig waens word tussen die Renoster- en die Wilgeriviere getrek met 'n kleiner sirkel van agt waens in die middel vir vrouens en kinders. Buskruit en loodkoeëls word op strategiese plekke geplaas en elke man bring sy twee tot drie gewere in gereedheid. 'n Patrollie bestaande uit Nicolaas Potgieter, Jan Cilliers en Joachim Botha bespied die Matabele slegs 'n paar uur van die laer af. Wagte neem stelling in vir die nag en patrollies bly aan die beweeg terwyl die spanning in die laer oplaai.

Die volgende oggend (16 Oktober) word die krygers bemerk en hulle sinistêre sisgeluid is hoorbaar. Sarel Cilliers hou 'n diens en 'n perdekommando van 33 man, met Hendrik Potgieter en Sarel Cilliers aan die spits, jaag uit die laer,

die nagenoeg 6000 Matabele onder leiding van Mkalipi tegemoet. Die krygers hurk agter hulle skilde met assegaaie in die hand. Die Trekkers ry tot ongeveer vyftig treë van die impi waar 'n kleurling-tolk die krygers vra waarom hulle die laer wil beroof en uitmoor. Die swartes skreeu "Mzilikazi!" en begin knopkieries en assegaaie in die perderuiters se rigting gooi. Die ruiters spring van hulle perde af, vuur 'n sarsie in die Matabele se rigting, bestyg die perde en jaag terug laer toe terwyl hulle weer stilhou en op die aanstormende krygers vuur. Terug in die laer wag die vrouens wat koeëls in gereedheid bring; die manne maak gewere skoon en Sarel Cilliers doen 'n gebed. Na dié voorbereidings word die vrouens en kinders gebied om nie 'n geluid te maak nie.

Die Matabele omsingel die laer terwyl hulle strategiese posisies inneem. 'n Groep krygers jaag 80 van die Trekkers se vee nader - dit word geslag en die krygers eet die rou vleis. 'n Indoena spring skielik orent, wuif sy rooi skild en die horde bestorm die laer terwyl hulle op die skilde trommel. Toe die Matabele tot ongeveer dertig treë van die laer vorder, word 'n skoot geskiet wat 'n teken is vir nagenoeg veertig gewere om te vuur. Assegaaie tref die waens se seile en sommige val binne die laer terwyl krygers probeer om die doringbosse tussen en onder die waens uit te ruk. Toe dit nie werk nie, probeer hulle die wawiele met soveel geweld afruk dat van die waens skuif. Die vrouens gee die gelaaide gewere aan en die mans vat korrel en skiet terwyl die gillende impi die laer keer op keer probeer binnedring. Sommige probeer bo-oor die waens klim maar word doodgeskiet voor hulle die Trekkers kan bereik. Een kryger slaag byna daarin, maar hy blaas die aftog toe Abraham Swanepoel se vrou sy hand afkap.

Die bloedige geveg duur ongeveer 'n uur en die gefrustreerde krygers gooi naderhand meer en meer assegaaie bo-oor die waens en só word sommige vroue en ook perde gewond. Die geraas en stof word vererger deur die diere binne die laer wat paniekbevange rond maal. Die dooie swartes hoop buite die laer op en uiteindelik gee Mkalipi die teken vir die impi om weer met 'n onheilspellende gesis terug te val. Hulle steel al die vee wat hulle in die hande kry en 'n kommando jaag die vlugtendes al vegtende, maar slaag nie daarin om die vee terug te vat nie.

Twee Trekkers is in die geveg gedood, naamlik Nicolaas Potgieter (Hendrik se broer) en Pieter Botha, (Hendrik se skoonseun), terwyl veertien van die geselskap (mans, vrouens en kinders) swaar gewond is. Sarel Cilliers is met 'n assegaai bokant die knie gesteek. ('n Makker trek die assegaai uit en Cilliers steek sy aanvaller daarmee dood.) 'n Seuntjie, wat sy pas se skape oppas toe die aanval plaasvind en nie die laer betyds kon bereik nie, daag die volgende oggend ongedeerd op.

Om die laer is 430 Matabele lyke getel terwyl nog 'n aantal oor die vlugspoor verstrooi gelê het. Die skade is egter groot. Waens is beskadig: een se seil vertoon nie minder as 72 assegaaisteke nie. In die laer word 1 137 assegaaie getel. Die verlies van 100 perde, 5000 beeste en 50 000 skape is 'n onoorkoomlike ramp; baie van die vee het aan Potgieter self behoort. Sarel Cilliers lei 'n dankdiens, die twee gesneuwelde Trekkers word begrawe en die gewondes met die klein voorraad medikasie behandel.

Die nadraai van die slag is ontsettend. Die Trekkers is vir 15 dae in die laer vasgevang en kosvoorrade raak uitgeput. Uiteindelik word Hermanus Potgieter en Nicolaas Smit uitgestuur om hulp te soek. Met hulle aankoms by Blesberg (Thaba Nchu) word hulle deur die Wesleyaanse sendeling, James Archbell en die opperhoof Moroka begroet. Gert Maritz se trek, wat onlangs daar aangekom het, sit hand by en osse, koeie, koring en ander kosvoorrade word na die laer gestuur. Die laer word na Thaba Nchu begelei om by Gert Maritz se mense aan te sluit.
http://groottrek.co.za/slae_01.htm#aankondig
bo-aan bladsy
Hoofblad