Sj du Toit

S.J du Toit

www.boerafrikana.com: Tuisblad > Musiek

Die Elwekoning

Ds. Stephanus Jacobus du Toit (1847 - 1911) was een van die belangrikste figure in die vroeë stryd om die erkenning van Afrikaans.

SJ Du Toit is die vader van JD du Toit (Totius)

Hy is in 1847 gebore op Daljosafat naby die Paarl in die Wes-Kaap en kry sy skoolopleiding aan die Paarlse Gimnasium-skool onder Arnoldus Pannevis. In 1874 word hy gelegimeer as leraar in die NG Kerk.

Dit was waar sy belangstelling in die Afrikaanse taal begin het. As leraard van die NG gemeente Paarl-Noord (die sogenaamde Toringkerk), het hy die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 gestig. Deur die G.R.A. het hy die koerantjie Di Patriot opgerig, die eerste Afrikaanse koerant, waarvan hy ook redakteur geword het.

Du Toit het gehelp om die Afrikanerbond in 1879 te stig, waarna hy in 1882 aangestel is as superintendent van onderwys in die Zuid-Afrikaansche Republiek. Hy het as sulks bedank in 1889 om terug te keer na die Kaap en sy belange by Di Patriot te hervat. Hy was redakteur van 1890 tot 1904, en het ook die kinderblad Ons Klyntji in 1896 begin en Ons Taal in 1907.

Du Toit was van die eerste mense wat 'n poging aangewend het om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Hy het baie boeke geskryf, onder meer drama, fiksie, geskiedenis en grammatika.

Vroeg in die dekade ná 1890 het hy bevriend geraak met Cecil John Rhodes, saam met wie hy na Rhodesië gereis het. Sy houding na die Jameson-inval het baie Afrikaners van hom vervreem, maar hy het nietemin sy ereplek as een van die grondleggers van die Afrikaanse taal behou. Hy is in 1911 oorlede.

 


Stephanus Jacobus du Toit is op Dal Josafat by die Paarl gebore. Hy het sy skool-en teologiese opleiding respektiewelik aan die Paarlse Gimnasium en die Kweekskool op Stellenbosch ontvang. S.J. du Toit was onder die invloed van Arnoldus Pannevis ‘n vurige voorvegter vir Afrikaansas selfstandige taal. Sy politiek-nasionale doelstelling- “om te staan vir ons taal, ons nasie en ons land” – het hy deur die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875, met as spreekbuis Die Afrikaanse Patriot, die Afrikanerbond in 1879 en sy aandeel in die opstel van die Afrikaanse Volkslied, bevorder. Hy kan daarom as die eerste Afrikaanse Nasionalisbeskou word. In 1882 het hy Superintendent van Onderwys in Transvaal geword. Sy onderwyswet het die onderwys in die Republiek bevorder. Sy eersug en betrokkenheid by Transvaalse politieke aangeleenthede, soos die Wesgrens-kwessie, die Pretoria-Konvensie, aandelespekulasies in die Goudstad, leerstellige aangeleenthede en sy teenkanting teen die regering se konsessiebeleid, het hom in regeringskringe ongewild gemaak. In 1888 het hy as Superintendent van Onderwys bedank en hom weer in die Paarl gaan vestig, waar hy hom met die vertaling van die Bybel in Afrikaans, ‘n taak deur die GRA in 1885 aan hom oorgedra, besig gehou het. Hy was dus ook ‘n baanbreker op die gebied van die Afrikaanse Bybelvertaling. Na sy terugkeer in die Paarl het hy die beleidsrigting van Die Patriot gewysig. Sy kritiek op die Krugerbewind en pleidooie vir konsiliasie tussen Brits- en Afrikaanssprekendes het hom verder van sy mede-Afrikaners vervreem. Die gevolg was dat die Eerste Taalbeweging, waarvan hy die vader was, teen 1900 doodgeloop het. In sy tweede Paarlse tydperk het ds. S.J. du Toit egter verbasend veel ter bevordering van die Afrikaanse taal en letterkunde sowel as oor algemene en godsdienstige onderwerpe gepubliseer. Hy het verskeie Afrikaanse boeke geskryf, soos Die Koningin van Skeba (1898), die eerste Afrikaanse gepubliseerde drame. Hy het ook gedigte geskryf, maar hulle is nooit gebundel nie. Hy is algemeen beskou as die “Vader van die Afrikaanse taal; stigter van die Afrikanerbond en stryder van die Calvinisme”. (Die inskripsie op sy graf). In sy lewe was hy predikant van die NG Kerk, Calvinistiese teoloog, Bybelvertaler, leier van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging, skrywer, Superintendent van Onderwys in Transvaal, en koerant- en tydskrifredakteur. Op ‘n besoek aan Calvinia in Augustus 1910 het sy perdekar omgeval. Die ernstige beserings wat hy in die ongeluk opgedoen het, het uiteindelik gelei tot sy sterwe op 28 Mei 1911 op Kleinbosch, Dal Josafat. Dankie aan Roosmaryn! 365Spore.blogspot.com

bo-aan bladsy
Hoofblad