Die Elwekoning - S.J. Du Toit

www.boerafrikana.com: Tuisblad >

Die Elwekoning (Goethe)

Wie ry daar so laat deur nag en wind?

Dit is 'n vader met sy kind;

Hy druk die knapie so styf in die arm,

Hy hou hom veilig, hy koester hom warm.

"My seuntjie berg bang sy gesiggie, vir wie?"

"Sien Vader die Elwekoning dan nie?

Die Elwekoning met mantel en sleep?"

"My kind, dit is 'n newelstreep."

"Kom, kindjielief, kom saam met my!

So heerlik speel hul waar ek bly;

Veelkleurige blomme groei op die strand,

Van goud gaan jou kleed wees uit moeder se hand."-

"My Pappie, is Pappie dan heeltemal doof

Vir wat Elwekoning my saggies beloof?"

"Bly stil, wees rustig maar, my kind!

In dorre blare duisel die wind."-

"Gaan jy, lief seuntjie, met my saam?

My dogters ken almal reeds jou naam;

My dogters dans voor die nagt'like rei

En wieg jou en dans en sing so bly." -

"My Vader, kan Vader dan glad nie gewaar

Elwekonig se dogters in die donker kol daar?"

"My seuntjie, my seuntjie, ek sien dit heel goed:

Die ou-gras skyn geel aan die randjie se voet?"

"Jou skoonheid bemin ek, my siel is ontsteld;

En as jy nie wil nie, gebruik ek geweld!"

"My Pappie, my Pappie, nou vat hy my raak!

Elwekoning het my seer gemaak!"

Die vader skrik; hy ry soos die wind,

En hou in sy arms die kreunende kind,

Bereik sy plaas in bange nood;

Die kind lê in sy arms dood.

 

bo-aan bladsy
Hoofblad | Web meester