Sarie Marais (liedjie)

www.boerafrikana.com: Tuisblad > Musiek

1st kolom

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Sarie Marais - Die liedjie- luister na musiek

SARIE MARAIS
Woorde: Waarskynlik deur (a) J.P. TOERIEN of (b) DIRK VAN ALPHEN of (c) SUSTERS BEZUIDENHOUT (d) B.A. DE WET: Vers 3
Musiek: SEP WINNER, na "Sweet Ellie Rhee" uit Scottish Students Song Book, 1891; verwerk: DIRKIE DE VILLIERS

[1] My Sarie Marais is so ver van my hart,
maar'k hoop om haar weer te sien.
Sy het in die wyk van die Mooirivier gewoon,
nog voor die oorlog het begin.

[KOOR] O bring my t'rug na die ou Transvaal,
daar waar my Sarie woon,
daar onder in die mielies by die groen doringboom,
daar woon my Sarie Marais,
daar onder in die mielies by die groen doringboom,
daar woon my Sarie Marais.

[2] Ek was so bang dat die Kakies my sou vang
en ver oor die see wegstuur;
toe vlug ek na die kant van die Upington se sand
daar onder langs die Grootrivier.

[KOOR] O bring my t'rug na die ou Transvaal,
daar waar my Sarie woon,
daar onder in die mielies by die groen doringboom,
daar woon my Sarie Marais,
daar onder in die mielies by die groen doringboom,
daar woon my Sarie Marais.

[3] Die Kakies is mos net soos 'n krokodillepes.
Hul sleep jou altyd water toe.
Hul gooi jou op 'n skip vir 'n lange, lange "trip",
die josie weet waarnatoe.

[KOOR] O bring my t'rug na die ou Transvaal,
daar waar my Sarie woon,
daar onder in die mielies by die groen doringboom,
daar woon my Sarie Marais,
daar onder in die mielies by die groen doringboom,
daar woon my Sarie Marais.

[4] Verlossing het gekom en die huis toe gaan was daar,
terug na die ou Transvaal;
my liewelingspersoon sal seker ook daar wees
om my met 'n kus te beloon.

[KOOR] O bring my t'rug na die ou Transvaal,
daar waar my Sarie woon,
daar onder in die mielies by die groen doringboom,
daar woon my Sarie Marais,
daar onder in die mielies by die groen doringboom,
daar woon my Sarie Marais.

Die storie agter die liedjie - Die verhaal van Sarie Marais (Susara Margaretha (Sarie) Maré):

Die eerste dogter van Jacob Philippus Maré en Cornelia Susanna Jacoba Erasmus was Susara Margaretha. Sy is op die plaas Eendraght, Suikerbosrand, distrik Heidelberg, gebore op 15 April 1869. Haar pa was Jacob Maré, wat later 'n lid van die uitvoerende raad van die Transvaal geword en na wie 'n straat in Pretoria genoem is.

Hierdie is dié Sarie Marais (eintlik Maré) wat in die wyk van die Mooirivier gewoon het, ook bekend as Tant Mossie, volgens die SA biblioteek se katalogus-inskrywing AP.1998-227. Haar ouers was Voortrekkers, en het hulle in die omgewing van die Suikerbosrand gevestig. Die dorpie Heidelberg het toe nog nie bestaan nie.

Die grootste konsentrasie Voortrekkers het hulle in die wyk Mooirivier bevind, waar die dorp Potchefstroom aangelê is. In hierdie tyd was daar vyf wyke in Transvaal:
Mooirivier (Potchefstroom)
Magaliesburg (Rustenburg)
Marico (Zeerust)
Ohrigstad
Zoutpansberg (Pietersburg).

Suikerbosrand was in die wyk van Mooirivier geleë, wat gestrek het vanaf Potchefstroom tot die huidige Wolmaransstad en Makwassie.

Toe sy 16 jaar oud was, het sy vir Jacobus Petrus Toerien, 'n verslaggewer van Di Patriot van die Paarl, ontmoet. (Hy was toe in Pretoria om 'n onderhoud met haar pa te voer). Hy het onder die skuilnaam Jepete in "Ons Kleintje" geskrywe in sy hoedanigheid as subredakteur van "Di Patriot". Hulle is getroud en het 16 kinders gehad, van wie net 8 grootgeword het.

Hy het by Amerikaners wat in Transvaalse myne gewerk het die liedjie Sweet Ellie Rhee gehoor, wat sy oorsprong in die Amerikaanse Burgeroorlog gehad het en deur Septimus Winner (Alice Hawthorne) geskryf is. In die tydperk tussen die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë het Jepete die woorde vertaal en só sy vrou, Sarie Maré, verewig. Die lied het ook nie aanvanklik al die versies en presies dieselfde woorde gehad het as wat ons vandag ken nie. Maré het later weens 'n drukfout Marais geword.

Waar Sarie Marais oral draai...:
Teen 1899 was Sarie Marais reeds 'n treffer in Pretoria. In die Anglo-Boereoorlog het dit nie net gewild by die Boeremag geword nie, maar ook by ander soldate. Dit het later wêreldbekend geword omdat duisende Suid-Afrikaanse soldate dit in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog gesing het. Die gewildheid het het só gegroei dat die Britse Royal Marines dit as regimentsmars aangeneem het. Hul opleidingskip heet ook Sarie Marais. Dit is ook die regimentsmars van Paraguay se seinerskorps.

Die eerste Suid-Afrikaanse seiljag se naam was ook Sarie Marais en duisende besoekers het al in die Durban-hawe op die Sarie Marais-plesierboot gevaar.

Die eerste Suid-Afrikaanse rolprent se naam was Sarie Marais.
Sarie, sustertydskrif van Die Volksblad, heet ook na haar.
Tot hotels en woonstelblokke is na haar genoem.
Op die eerste internasionale radio-uitsending tussen Suid-Afrika, Brittanje en Amerika op die verjaardag van mev. Isie Smuts, vrou van die destydse premier, generaal Jan Smuts, het die sangeres Gracie Fields Sarie Marais gesing.
In die Tweede Wêreldoorlog het 'n buitestasie van soldate in Noord-Afrika die naam "Sarie Marais Calling" gehad.
Die Suid-Afrikaanse weermag is steeds lief om die mars op parades te speel, terwyl die Franse Vreemdelinge-legioen dit ook gebruik.
Dit is ook die amptelike lied van die Girl Guides in Sri Lanka (Ceylon) wat dit aan die begin van die vorige eeu by die Boerekrygsgevangenes daar gehoor het.
In die jare dertig van die vorige eeu is dit verkeerdelik op die Olimpiese Spele in Amerika as Suid-Afrika se amptelike volkslied gespeel.
Duitsers het 'n pienk roos met die naam Sarie Marais gekweek, waarvan voor die Pantserskool in Tempe, Bloemfontein, geplant is.

Sarie se Laaste Jare
Sarie was 'n diep godsdienstige vrou en selfverheerliking was totaal in stryd met haar nederige geaardheid. Sy het altyd haar verbintenis met die liedjie stilgehou. Na Jacobus se dood in 1920 het sy haar by haar dogters in Bloemfontein gaan vestig. Sarie is op 22 Desember 1939 op die ouderdom van 73 jaar in armoede oorlede en in 'n nederige ongemerkte graf in die Memoriam-begraafplaas naby die Vrouemonument begrawe.

3de kolom
bo-aan bladsy
Hoofblad