Andries Pretorius

www.boerafrikana.com: Tuisblad > Boerehelde

Oorsake van die Groot Trek
 
Groot Trek leiers
Andries Pretorius

 

 

Gerrit Maritz

 

 

Hendrik Potgieter

 

 

Karel Landman

 

 

Louis Trichardt

 

 

Piet Retief

 

 

Sarel Cilliers

 

 

Piet Uys
 

 

 

 

W IE was Andries Pretorius eintlik? Stellig die grootste van al die Voortrekkerleiers, het baie historici al gereken. Trouens, van hom is al gesê dat hy meer as al sy tydgenote die wese van die Groot Trek en die wordende republikeinse ideaal van die Afrikaner deurgrond het.

As die grondlegger van die eerste Boererepubliek wat as gevolg van die Groot Trek ontstaan het, het hy hy besef dat die krag wat in eensgesindheid lê, noodsaaklik is om die Voortrekkers se onafhanklikheid van Brittanje af te dwing. Hy was ook ’n bekwame onderhandelaar wat geweet het hoe om sy tyd af te wag.

Volgens beskrywings van sy tydgenote moet hy ’n charismatiese man met ’n treffende voorkoms gewees het, groot en sterk gebou. ’n Vroulike bewonderaar het só oor hom geskryf: "Aantreklik, ’n lang figuur van tussen ses en sewe voet (nagenoeg twee meter), regop, vriendelik en innemend."

En niemand kan ontken dat hy ’n gebore leidsman was nie. In die Voortrekkers se donkerste uur het hy die Kaapkolonie verlaat en die destyds leierlose uitgeweke Boere in Natal te hulp gesnel. Daar het hy soveel vertroue ingeboesem dat hy ’n verslae, magtelose klompie mense in ’n kontingent van besielde, dapper en seëvierende pioniers verander het.

 

ANDRIES PRETORIUS is op 27 November 1798 by Graaff-Reinet in die destyds Kaapkolonie gebore, die vyfde geslag van die Suid-Afrikaanse Pretorius-stamvader Johannes Pretorius. Johannes het in 1666 in diens van die Kompanjie uit Nederland in die Kaap aangekom, kort daarna na Mauritius vertrek, maar in Desember 1669 permanent in die Kaap kom woon.

Hierdie stamvader was die seun van ds. Wessel Scout van Nederland, wat in sy tyd as teologiese student aan die Universiteit van Leiden sy name na die Latynse vorm verander en dus Wesselius Praetorius (later Pretorius) geword het.

Van sy interessante afstamming was die suigeling Andries natuurlik glad nie bewus toe hy sy eerste skreeutjie in sy ouers se Karoo-opstal gegee het kort voor die eeuwisseling van die 1700’s na die 1800’s nie. Hy was die oudste seun uit die tweede huwelik van Marthinus Wessel Pretorius, en sy ma was ’n nooi Susanna Viljoen, die weduwee van Johannes Hattingh.

Maar dit is omtrent al wat daar oor Andries Pretorius se jeugjare te vertel is. So goed as niks is daaroor bekend nie. Ons weet wel dat drie broers en ’n suster op sy geboorte sou volg (daar was ook halfbroers en halfsusters uit sy pa se eerste huwelik). Andries het sy eerste lewensjare waarskynlik op sy pa se plaas Driekoppen, sowat 40 km noordoos van Graaff-Reinet, geslyt.

Veel skoolonderrig het hy nie gehad nie—dit is immers in die pionierstyd van destyds nie so belangrik geag nie en as ’n man ten minste jou naam kon skryf en uit die Bybel kon lees, was jou graad van geletterheid stellig heeltemal voldoende. Tog het Andries dit ver genoeg gebring om sy gedagtes vry goed op papier te kon neerskryf.

Die tekortkominge in sy onderwys is ruimskoots vergoed deur ’n gesonde verstand en skerpsinnige oordeel wat heelwat bokant die middelmatige was, is van hom vertel.

Andries was nog nie eens twintig toe hy op 8 November 1818 in die gemeente Tulbagh met die agttienjarige Christina Petronella de Wit getrou het nie. Sy sou dertig jaar van vreugdes maar ook ontberings aan die sy van haar ondernemende man deurmaak, totdat sy hom ontval het. Hy het daarna weer getrou.

Sewe dogters en drie seuns is uit sy en Christina se huwelik gebore, en hul oudste seun Marthinus Wessel Pretorius, het later die staatspresident van die Boerestate die Zuid-Afrikaanse Republiek (Transvaal) sowel as die Oranje-Vrijstaat geword. Dis ook hy wat Pretoria in 1855 gestig en na sy pa genoem het.

DIE groot, forse leier is ’n skadu van sy ou self waar hy op sy sterfbed in sy plaashuis lê. Sy veel jonger tweede vrou probeer haar bes om dit vir hom so gerieflik as moontlik te maak, maar moet magteloos sy agteruitgang en bitter lyding aanskou.

Burgers wat vroeër onder hierdie wyse veldheer geveg het, verneem kort-kort hoe dit nou met hom gaan. Maar, soos ’n profeet wat baiemaal nie deur sy tydgenote erken word nie, sal sekerlik nie almal presies besef watter reus in hul midde gewandel het nie.

Tog kom swart hoofmanne na die sterwende ou kommandant-generaal se bed, kniel by hom en soen sy hande. By hulle is daar ’n diepe eerbied vir die Boereleier wie se insig en versiendheid hulle leer respekteer het.

En toe sterf die eienaar van die plaas Grootplaats, by die samevloeiing van die Magalies- en die Krokodilrivier anderkant die Vaal. Hy word na sy graf op die plaas gedra, rouklaers bid en sing, die kluite klap op die kis en sy geliefdes loop met groot hartseer van die graf af weg.

Maar onder die agtergeblewenes is daar ’n baie skrander seun van die ou man wat die mantel as aanvoerder by hom sal oorneem en sal sorg dat die Boeremense hom nie sal vergeet nie.

Die seun, Martinus Wessels Pretorius, sal ’n dorp stig en dit Pretoria noem — na sy pa, Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius. En in die Ou Kerkhof van die einste Pretoria—wat dekades later die administratiewe hoofstad van ’n verenigde Suid-Afrika sal word—sal Andries Pretorius se stoflike oorskot in 1891 met groot eerbetoon herbegrawe word…

 

   
   
   

Andries Pretorius, Graaf Reinet, Oos-Kaap

"Eenmaal sal daar wel 'n wiel oor ons wêreld

rol, wat vir u en my onkeerbaar is"

This is the rebuilt house of Andries Pretorius, a Voortrekker leader. It is to be found in the grounds of the Voortrekker Museum, Pietermaritzburg. Originally built in 1842
Foto: Clive Reid, Flickr, 2008 Foto: Clive Reid, Flickr, 2008
   
A Pretorius, Graaf Reinet  
 
Foto: Robert Wallace, Flickr, 2008  

 

 

 

I N die jare net voor die Groot Trek was Andries Pretorius ’n gesiene persoonlikheid in die Graaff-Reinetse omgewing, hoewel hy nie so ’n leidende rol as die ander latere Voortrekkerleier Piet Retief gespeel het nie. Sy kwaliteite as leier is egter goed erken, soseer dat hy in die Sesde Grensoorlog (1834-’35) ’n kommando van 800 Graaff-Reinetse burgers teen die Xhosa aangevoer het.

Nadat die Groot Trek op dreef gekom en die wawiele van die groot trekgeselskap van Gerrit Maritz in September 1836 uit Graaff-Reinet noordwaarts begin rol het, het baie van die mense wat agtergebly het sterk daaraan begin dink om ook die Kaapkolonie te verlaat en onder die Britse gesag uit te trek.

Ook Pretorius het sulke gedagtes gekoester en gevolglik in Oktober 1837 met ’n klein geselskap op ’n verkenningstog na die binneland vertrek waar hy die Trekkers besoek het.

Die opvatting kan nietemin bestaan dat Pretorius daarna die Kolonie permanent verlaat het uitsluitlik omdat hy na die Trekkers in Natal ontbied is om vir hulle as leier op te tree. Dit sou wees nadat hulle leierloos gelaat was. Die Trekkerleiers Piet Retief en Piet Uys is naamlik deur die Zoeloes onder leiding van hul koning Dingane gedood, Gerrit Maritz het aan siekte beswyk en Andries Potgieter het uit Natal weer die binneland ingetrek.

Pretorius het egter vantevore al sy begeerte laat blyk om te trek en inderdaad reeds vir hom ’n plaas in Natal van ene Thomas Garden gekoop.

Wat meer sê, nog voor die aankoms van boodskappers wat uit Natal gestuur is om sy hulp in te roep, het hy reeds voorbereidings getref om sy besittings in die Kolonie te verkoop en na Natal te verhuis.

Hoe ook al, Pretorius het die Kolonie aan die einde van Oktober 1838 met sy trekgeselskap verlaat, maar hy het sy trek aan die Modderrivier agtergelaat en hom na die Trekkers se hooflaer aan die Klein-Tugela in Natal gehaas.

Hy het op 22 November daar aangekom toe die nood op sy hoogste was. En dit is merkwaardig, sê historiese waarnemers, hoe dikwels hy daarna in oomblikke van krisis beskikbaar was om leiding te gee.

"Al ons opperhoofde was omgebring en ons was soos skape sonder ’n herder," sou ’n Voortrekkervrou later oor dié dae vertel.

Pretorius het dinge soos handomkeer verander.

Sy deeglikheid en deurtastende optrede het dadelik vertroue ingeboesem en hy is aangewys as hoofkommandant van die strafkommando wat teen Dingane moes optree. Twee dae later het hy met sy kommando noordoos in die rigting van Zoeloeland getrek. Doelgerig sou hy sorg dat die Suid-Afrikaanse toneel daarna nooit weer dieselfde sou wees nie...

DIE Gelofte, die slag by Bloedrivier... hierdie geskiedenis is baie bekend. Pretorius sou uiteindelik die bevel voer oor ’n mag van 470 man, wat met 64 waens Dingane (of Dingaan) se gebied binnegedring en op 16 Desember 1838 wesenlik die Zoeloekoning se mag gebreek het.

16 Desember is daarna elke jaar gedenk as Dingaansdag of Geloftedag, maar dit staan vandag bekend as Versoeningsdag. Van die sowat 10 000 Zoeloes (party bronne sê daar was duisende meer) wat aan die slag deelgeneem het, het 3 000 gesneuwel. Met hul assegaaie was hulle duidelik nie opgewasse teen die Boere se gewere nie, maar dit bly wonderbaarlik dat geen Boer daardie dag gesneuwel het nie. Net drie is gewond, onder wie Pretorius self, wat deur ’n assegaai aan sy hand beseer is.

Pretorius het hierna ’n verbond gesluit met Dingane se broer Mpande, waardeur Dingane gedwing is om te vlug. "Andries Pretorius het ’n nuwe Suid-Afrikaanse orde geskep," sou later oor hom geskryf word.

In 1840 het Pretorius gehelp om die Boererepubliek van Natalia te stig, wat slegs tot 1843 bestaan het toe die Britte Natal geannekseer het. ’n Tyd lank het hy met die Britte probeer saamwerk, hoewel ander Boere eerder die binneland ingetrek het as om dit te doen. Tog het hy al hoe meer ontnugter geraak oor die Britse bedoelinge met Suidelike Afrika.

Vir hom het die Britte nie die probleem in Natal raakgesien nie deurdat hulle nie gebiedskeiding wou afdwing tussen twee kulture wat in daardie stadium nie naastenby assimileerbaar sou wees nie. Sekere ontleders sou in sy optrede die wortels van die latere apartheid in Suid-Afrika wou lees, maar dit sou heeltemal verkeerd wees om hom alleen en in sy eie bepaalde tydsgewrig daarvoor te blameer.

Pretorius het swaar van Natal afskeid geneem en hom oorkant die Vaal op ’n plaas aan die Magaliesberg gaan vestig. "Ik nam mij … volstrek voor om mij nooit onder Britsch gezag te onderwerpen," het hy op ’n keer geskryf.

Maar die wrywing tussen hom en die Britte is op die spits gedryf toe sir Harry Smith die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier (die latere Vrystaat), waar baie Boere hulle reeds gevestig het, vir Brittanje geannekseer het.

Pretorius is as kommandant-generaal gekies van die burgers wat hulle daar teen die Britte verset het. Die Britte het hierop geantwoord deur Pretorius voëlvry te verklaar, met ’n prys van 2 000 pond op sy kop.

Die Boere se versetoptrede sou uiteindelik uitloop op die botsing by Boomplaats op 29 Augustus 1848 tussen Pretorius se sowat 300 man en Smith se 1 200. Hoewel Pretorius se mag die voordeel van ’n gunstiger gevegsterrein geniet het, het die Britse oormag dit reggekry om hulle op die vlug te jaag. Pretorius self moes noordwaarts uitwyk, terug na sy Transvaalse plaas aan die Magaliesberg.

Hier moes hy tot sy leedwese hoor dat sy vrou tydens sy afwesigheid oorlede en begrawe is.

Pretorius het die volgende jaar weer getrou en wel met ’n nooi Petronella Aletta de Lange, wat negentien jaar oud en dus meer as ’n kwarteeu jonger as hy was. Hulle sou saam drie dogters hê, van wie die oudste twee vroeg oorlede is en die jongste nog ’n suigeling was toe haar pa gesterf het.

In Transvaal moes Pretorius met die Voortrekkerleier Andries Potgieter wedywer om die leierskap van die Boere. Ondanks sy ondervinding met sir Harry Smith het hy steeds onderhandeling met die Britte verkies en hy het ook die Boere verteenwoordig op die vergadering vir die ondertekening van die Sandrivier-konvensie van 1852. Feitlik uitsluitlik op sy inisiatief en optrede is die soewereine onafhanklikheid van Transvaal met hierdie konvensie erken en een van die einddoelstellings van die Groot Trek verwesenlik.

Dit was hom egter nie beskore om ook die erkenning van die onafhanklikheid van die Oranje-Vrystaat in 1854 te beleef nie, hoewel hy onteenseglik die weg voorberei het vir die ondertekening van die Bloemfontein-konvensie waardeur ook hierdie gebied aan die Boere teruggegee is.

Pretorius is op 23 Julie 1853 oorlede ná ’n smartlike lyding aan die sogenaamde "borswater", slegs enige maande ná Potgieter, wat aan dieselfde kwaal beswyk het.

Soos reeds gesê, word Andries Pretorius deur baie beskou as die grootste van die groot geeste wat die Groot Trek opgelewer het. Party van sy tydgenote het hom "vader Pretorius" genoem en vir ander was hy die "koning der emigranten". Sy godvresendheid is nooit betwyfel nie. En die respek wat hy van sekere swart hoofmanne geniet het, spreek boekdele.

Hy het die gawes van ’n knap veldheer, ’n gebore diplomaat en ’n versiende staatsman in sy persoon verenig, en toe sy afskeidsbrief aan die Krygsraad voorgelees is, het sterk manne onbeskaamd gehuil.

Uitgeëtste weergawe (met beskaduwing) van
’n foto deur © FC Georgio van die Franse Wikipedia-projek.
Die oorspronklike foto verskyn op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web, waar dit gelisensieer is ingevolge die bepalinge van die Creative Commons Attribution ShareAlike 3.0  -lisensie. Deling en wysigings word vergun op voorwaarde dat behoorlike erkenning gegee word en dat dit slegs versprei word ingevolge ’n lisensie wat identies is aan hierdie een. Amptelike lisensie
bo-aan bladsy
Hoofblad