Van Rensburg Trek uitgewis tydens Groot Trek

Die Van Rensburg-trek word uitgewis

±Julie 1836

www.boerafrikana.com: Tuisblad >

Die Van Rensburg-trek het waarskynlik na Julie 1835 na die Oranjerivier begin beweeg. Die trek bestaan uiteindelik uit nege-en-veertig blankes, van wie verskeie aan Van Rensburg verwant was: Van Rensburg, sy vrou en vier kinders; Gijsbert Bronkhorst (skoonvader), sy vrou en een kind; Gijsbert Sybrand Bronkhorst (swaer), sy vrou en ses kinders; Petrus Johannes Viijoen (skoonseun), sy vrou en ses kinders; Frederik Hermanus van Wyk (skoonseun), sy vrou en twee kinders; Gijsbert Sybrand Bronkhorst (broerskind van sy vrou) en sy vrou; Jacobus Ignatius de Wet en sy vrou; Hendrik Croukamp, sy vrou en drie kinders; Nicolaas Prinsloo, sy vrou en agt kinders; en Marthinus Prinsloo, 'n vrygesel.

Van Rensburg en sy geselskap kom by die Oranjerivier by die trek van Louis Tregardt aan en die twee trekke bly in voeling totdat Van Rensburg hulle voor die end van Junie 1836 afskei en 'n suidoostelike rigting inslaan, in die rigting van Delagoabaai. Dit blyk dat die trek in die laaste week van Julie 1836 die stat van Masambo teenoor die stat van die Zoeloe Manukozi bereik. Daar word by die Djindispruit uitgespan op die plek waar 'n voetpad oor die Limpopo gaan. Hierdie laaste staanplek is op die regterwal van die Limpoporivier omtrent veertig myl ten noorde van sy samevloeiing met die Olifantsrivier.

Gedurende die nag word die laer deur 'n impi van Manukozi onder die bevel van die indoena Malitel onverhoeds aangeval. Die Boere voer 'n verbete en heldhaftige stryd, maar toe hul ammunisie teen dagbreek opraak, word die hele geselskap uitgemoor. Net twee kleinkinders van Van Rensburg, 'n seuntjie van vyf jaar en 'n dogtertjie van vier jaar van P.J. Viljoen, word gedurende die aanval deur 'n Zoeloekryger onder sy skild uitgekeer en gespaar. Hulle beswyk egter 'n jaar daarna aan malaria. Toe Karel Tregardt die toneel van die moord later in 1838 vanuit Inhambane besoek, word hul grafte aan hom gewys; hy begrawe die beendere van sy landgenote wat hy nog op die moordtoneelaantref.

bo-aan bladsy
Hoofblad