Aanval op die Liebenbergs

25 Augustus 1836

www.boerafrikana.com: Tuisblad >

Hendrik Potgieter se trek bereik die Vetrivier ten suidweste van die huidige Theunissen en die geselskap vertoef hier 'n geruime tyd. Met die oog op weiding vir die groot troppe klein- en grootvee verdeel die trek nou in kleiner trekke, een waarvan reeds in Mei 1836 by Bloudrif aan die Sandrivier laer opslaan.

Op 24.5.1836 vertrek Potgieter met 'n ekspedisie om die binneland vir nedersettingsdoeleindes te verken. In sy afwesigheid versprei die Trekkers oor die grasvlaktes tot aan die Vaalrivier. Twee groepe het selfs deur die rivier getrek. Barend Liebenberg en sy groep Trekkes vestig hulle reg teenoor die huidige Parys, terwyl Johannes Botha, Hermanus Steyn, Lucas Bronkhorst, en andere ietwat suid van Bronkhorst op die walle van die Vaalrivier laer trek.

Nagenoeg vyf uur se ry van die Trekkers kamp Stephanus Erasmus wat met sy drie seuns, Pieter Bekker en sy seun, Jan Claasen en Carel Kruger, en 'n aantal gekleurdes terug gekeer het van 'n jagtog. Erasmus hulle laat die kamp en diere in die sorg van die bediendes om in drie groepe jag te maak vir die pot. Teen die aand keer Erasmus en sy een seun terug en hoor hulle 'n vreesaanjaende lawaai by die kamp.

Daar aangekom sien hulle hoe nagenoeg 600 Matabele-krygers die kamp omsingel en besig is om die gekleurdes uit te moor. Erasmus se ander twee seuns en Carel Kruger, wat die tweede jaggroep uitgemaak het, was reeds dood. Die Bekkers, saam met Claasen in die derde groep, het ontsnap, maar Claasen was deur die impi afgesny en is nooit weer lewend gesien nie. Erasmus en sy seun bereik die Liebenbergs laat daardie nag en waarsku hulle oor die dreigende gevaar. Die twee ry verder om teen dagbreek by Johannes Botha en Hermanus Steyn aan te kom. Dié twee trek dadelik laer en stuur boodskappers uit om die ander groepies Trekkers ook te waarsku.

Die Liebenbergs, wat nie betyds laer getrek het nie, word teen die oggend van 25 Augustus 1836 deur die Matabele-impi aangeval en word bykans uitgewis. Barend Liebenberg en sy drie seuns, Stefanus, Barend en Hendrik word met assegaaie doodgesteek. So sterf ook Hendrik Liebenberg se vrou en sy skoonseun, Jan du Toit, die skoolmeester, Macdonald, vier kinders en twaalf bediendes. Sommige in die groep ontkom wonderbaarlik: Jan du Toit se vier kinders lê doodstil in 'n wa waar die swartes hulle nie opmerk nie; Jan du Toit se vrou en 'n kind in haar arms word albei met 'n assegaai getref en teen die grond vasgepen. Albei oorlewe maar mev Du Toit sterf later; Stephanus Liebenberg se vrou en vier kinders is in 'n wa wat reeds ingespan is. In die harwar sit die osse op loop met die wa terwyl Matabeles dit agtervolg. Die vrou en kinders word uit die wa gehaal, maar nie gedood nie. Christiaan Liebenberg wat tydens die gebeure saam met Potgieter op ekspedisie is, se vrou word swaar gewond. Die impi vertrek met al die diere, twee meisies en Barend Liebenberg se seun, Christiaan. Die lot van dié kinders het nooit bekend geword nie.

Johannes Botha en Hermanus Steyn trek hulle laer by Koppieskraal in 'n halfsirkel, met die oop gedeelte aan die vinnig vloeiende Vaalrivier se kant. Dit maak die spasie binne die laer baie groter en die lewende hawe kan dus gehuisves word. Dolf, die 17-jarige seun van J.G.S. Bronkhorst, bied aan om die Liebenbergs weereens te gaan waarksku; hy vertrek te perd en raak vermis.

bo-aan bladsy
Hoofblad