Bybelvertaling

www.boerafrikana.com: Tuisblad > Foto Album
Staenbijbel
 

 

British settlers, Grahamstown, presenting a Bible to Jacobus Johannes ("Koos Bybel') Uys and his son Petrus Lafras ('Piet Italeni') as afarewell token of their esteem
(Photograph of a panel at the Voortrekker Monument: With acknowledgements to the S.A. National Cultural Historical and Open-Air Museum)

 

In Nederland was die bekende Statevertaling ] - Statenbijbel - wat in opdrag van die Sinode van Dordrecht en met die geldelike steun van die State-Genaraal in 1637 gedoen is. Dit is in 1933 in Suid Afrika vervang deur die Afrikaanse Bybel, die Heilige Skrif, wat al die kanonieke boeke van die Ou en Nuwe Testament bevat. Dit is oorgesit uit die oorspronklike tale en uitgegee deur die Bybelgenootskap, in opdrag van die Gesamentlike Kommissie van die drie Hollandse Kerke in Suid Afrika, en is deur die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap in Engeland gedruk.

Inisiatief van die Genootskap van Regte Afrikaners (1872 - 1911)

Die eerste openbare pleidooi vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans was 'n brief deur Dr. Arnoldus Pannevis wat op 7 September 1872 in De Zuid-Afrikaan verskyn het.
Daarin het hy daarop gewys dat die Nederlandse Statevertaling vir de eenvoudiger gedeelte der bevolking 'n geslote boek geword het omdat hulle dit nie meer verstaan het nie. Uit korrespondensie wat daarop gevolg het, het dit egter geblyk dat die meeste mense sterk gekant was teen 'n Bybelvertaling in Afrikaans.

As wegbereider vir 'n Bybelvertaling het C.P. Hoogenhout in 1873 die verhaal van Josef in Afrikaans uitgegee: Die geskiedenis van Josef voor Afrikaanse kinders en huissouwens, in hulle eige taal geskrijwe deur een vrind. In die slot van hierdie boekie het hy 'n sterk pleidooi gelewer vir 'n Afrikaanse vertaling van die Bybel.

Op 7 November 1874 het Pannevis en Hoogenhout regstreeks aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG) geskryf om te pleit dat 'n Afrikaanse vertaling onderneem moet word. Pannevis, wat die Bybelvertaling suiwer om godsdienstige redes bepleit het, het in die brief Afrikaans in 'n swak lig gestel, sodat die BBBG 'n Afrikaanse Bybelvertaling afgewys het. Die BBBG het die saak nietemin na sy sekretaris in Suid Afrika, ds. Geo Morgan verwys. Op die predikantekonferensie in Julie 1875 op Wellington is die vertaling van die Bybel in Afrikaans toe ook afgekeur.

Hierdie toedrag van sake het gelei tot die besef dat 'n stryd begin moes word vir die erkenning van Afrikaans as skryftaal. Met die oog daarop is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 in die Paarl gestig onder leiding van ds. S.J. du Toit.

Eers op 'n vergadering in 1878 het die GRA besluit dat die tyd ryp was vir 'n vertaling van die Bybel in Afrikaans. Die taak is in 1885 aan ds. S.J du Toit opgedra. Aanvanklik het die werk nie goed gevorder nie, maar nadat ds. du Toit hom vanaf 1890 heeltyds daaraan kon wy, het die volgende boeke in Afrikaans verskyn:
Genesis - 1893
Matteus - 1895
Openbaring - 1898
Psalme - 1907
In die tydskrif Stemmen des Tijds:
Hooglied - 1905
Handelinge - 1908
Markus - 1908
Voor sy dood in 1911 het ds du Toit ook aan die vertaling van Lukas gewerk. Hoewel hierdie vertaling nie by die kerklike publiek ingang gevind het nie, het dit bewys dat die Bybel wel in Afrikaans vertaal kon word.

Die eerste volledige bybelboek in Afrikaans was die Evangelie volgens Markus soos deur C.P. Hoogenhout vertaal. Hierdie vertaling is nooit gepubliseer nie, maar die manuskrip is in die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika in Kaapstad beskikbaar.

Die eerste Afrikaanse vertaling (bekend as die "ou" vertaling) van die Bybel het in 1933 verskyn. Die vertaalwerk is deur prof J D du Toit, prof E E van Rooyen, prof J D Kestell, dr H C M Fourie en prof B B Keet behartig.

Die nuwe vertaling van die Bybel het in 1983 verskyn en word deur die Bygelgenootskap van Suid-Afrika gepubliseer. Die eindredaksie van hierdie vertaling was proff E P Groenewald, J P Oberholzer, A H Van Zyl, P A Verhoef, J L Helberg en W Kempen.

Inisiatief van die Afrikaanse Kerke (1914 - 1923)

In 1914 het dr. B.B. Keet op Stellenbosch 'n referaat gelewer oor die Bybel in Afrikaans, waarin hy die samewerking van die Hollandse Kerke in Suid Afrika bepleit het. In 1916 het die Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Vrystaat op 'n voorstel van ds. (later dr.) N.J. van der Merwe besluit om 'n kommissie te benoem om, in samewerking met die Gereformeerde Kerk en die Nederduitch Hervormde Kerk, die bekwaamste manne aan te wys en met die vertaling te begin.

Die saak is kragtig bepleit deur ds. J.D. du Toit, maar hy en dr. Keet was van mening dat die eerste vertaling in Afrikaans eerder net 'n verafrikaansing van die Statebybel as 'n nuwe vertaling uit die grondtale moes wees. Die gevolg van die saak was dat 'n aantal mense van die verskillende kerke hulle vanaf 1916 met die vertaling besig gehou het, en in 1922 het die proefuitgawe van die Vier Evangelië en Die Psalme verskyn.

Die nuwe vertaling is aanvanklik geesdriftig ontvang, maar dit het geblyk dat die taal te sterk Nederlands-gebonde was en gevolglik nie egte Afrikaans nie.

Volwaardige onderneming van die Afrikaanse Kerke (1923 - 1933)

Met die verskyning van die proefuitgawe het dit geblyk dat die Afrikaanse volk uitgesien het na 'n Bybel in hul moedertaal, maar dat die vertaling eerder uit die grondtale gedoen moes word en dat dit oorgesit moet word in die ware taal van die Afrikaanssprekende gemeenskap. Om hierdie doel te verwesenlik , moes heeltydse vertalers en Afrikaanse taaladviseurs benoem word.

As eindvertalers is drr. J.D. du Toit en B.B. Keet aangewys, maar aangesien dr. Keet nie vrystelling van sy doseerpligte aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch kon kry nie, is dr. J.D. Kestell in sy plek benoem. Dr. du Toit sou vir die Ou Testament en dr. Kestell vir die Nuwe Testament verantwoordelik wees. Later het as eindvertalers bygekom drr. H.C.M. Fourie en E.E. van Rooyen en uiteindelik ook dr. B.B. Keet. 'n Aansienlike aantal medewerkers en adviseurs het belangrike bydraes gelewer. Die Afrikaanse taaladviseurs was proff. S.P.E. Boshoff, T.H. le Roux, D.F. Malherbe en J.J. Smith.

In 1927 het dr. C. van Gelderen, Semitikus aan die Vrije Universiteit Amsterdam, vir ses maande na Suid Afrika gekom as adviseur vir die vertaling van die Ou Testament uit die Hebreeuse grondteks.

In 1929 is 'n hersiene uitgawe van Die Vier Evangelië en Die Psalme gepubliseer. Dit het by die kerklike publiek byval gevind en as spoorslag gedien om die volledige vertaling so gou moontlik te voltooi. Hierdie doelwit is in 1933 bereik.

Op 29 Mei 1933 het die eerste besending Afrikaanse Bybels met die Carnarvon Castle uit Engeland in Kaapstad aangekom. Op Sondag, 27 Augustus 1933, is die Afrikaanse Bybelvertaling oral in die land feestelik ontvang. Die sentrale feesviering was in Bloemfontein, waaraan onder andere drr. Kestell en du Toit deelgeneem het. Die fees in gekenmerk deur groot geesdrif, blydskap en dankbaarheid. Van toe af sou die Afrikanervolk die groot dade van God in hulle eie taal hoor.

Teks vanaf http://www.bloedrivier.org/bloedrivier_geskiedenis_bybel_vertaling_1933_1953_03.php besoek Des 7, 2010

bo-aan bladsy
Hoofblad