DIE Nasionale Vrouemonument, wat op 16 Desember 1913 onthul is, gedenk die tragedie van sowat 26 000 Afrikanervroue en -kinders wat enkele jare tevore in die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 gesterf het. Die Britse militêre se drastiese plan om die voortslepende oorlog te beëindig, was om die Boere se plase af te brand en hul vroue, kinders, bejaarde mans en werkers kamma “vir hul eie beskerming” in konsentrasiekampe aan te hou. Die haglike omstandighede daar het tot die dood van duisende gelei.
Eers veel later sou besef word hoeveel swartmense ook as gevolg van die oorlog oorlede is—en die monument staan vandag eweneens as ’n somber herinnering aan die lyding in alle konflikte wat met brute geweld besleg is sonder om onskuldiges in ag te neem.
Nadat Marthinus Theunis Steyn, gewese president van die Vrystaat, die oproep gedoen het dat ’n monument opgerig moet word ter nagedagtenis van die vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe dood is, is in Februarie 1907 op ’n konferensie in Bloemfontein besluit om £10 000 vir die oprigting van ’n gedenknaald in te samel. Die hoogs verarmde Afrikanervolk het gereageer ondanks die geringe middele tot sy beskikking en vier jaar later was meer as die vasgestelde bedrag bymekaar.
Die beeldhouer Anton van Wouw en die argitek Frans Soff het opdrag gekry om die ontwerp uit te voer wat hulle voorgelê het.
Indrukwekkend in sy eenvoud, is die Nasionale Vrouemonument ’n 37 meter hoë obelisk (gedenknaald) van sandsteen aan die suidekant van Bloemfontein, met historiese panele weerskante op die voetstuk en twee halfmaanvorige uitbousels wat ’n ringmuur na voor vorm.
Aan die voorkant van die naald is die roerende beelde van twee vroue, een wat ’n sterwende kind vashou. Die as van die Britse skryfster en filantroop Emily Hobhouse (1860-1926), wat soveel vir die lydende Boerevroue beteken het, rus in ’n urn in die basis van die naald.
Daar is ook enkele grafte binne die ringmuur, onder meer dié van pres. M.T. Steyn, wat in 1916 oorlede is kort nadat hy ’n toeval gekry het terwyl hy besig was om ’n kongres van die Oranje-Vrouevereniging toe te spreek. Ook genl. Christiaan de Wet, wat hom besonder onderskei het in die Boere se beweeglike guerrillastryd teen die Britte, is hier aan die voet van die Vrouemonument begrawe.
Teks erkenning aan www.mieliestronk.co.za besoek 28 Desember 2014 |