These pages are still under development - please sent your submission to tourism@vlr.dorea.co.za

Geskiedenis

Home ] Volksrust Area ] [ Geskiedenis ]

 

Geskiedenis van Volksrust en Omgewing

Oorlog grafte, monumente en ander gedenkwaardighede wat hier besigtig kan word, die lyding en groei van ‘n volk veral tydens die twee Vryheidsoorloë van 1880 – 1881 en 1899 – 1902. Die versperrings tussen Boer en Brit opgebou jeens die oorloë is egter suksesvol afgetakel en simboliseer weereens die grensdorpvermoë om aan te pas.

                                                   Britse Gedenktuin         

english graveyard.jpg (10047 bytes)

Inligting van interessante plekke om te besoek:

DIE SLAG VAN LAINGSNEK

4 km Suid-oos van Charlestown op die Volksurst / Newcastle pad.

Op 12 April 1877 annekseer Sir Theophilus Shepstone die Zuid-Afrikaansche Republiek en hys hy die Britse vlag op Kerkplein in Pretoria. Na hul pogings vir vreedsame protes misluk het, hys die Transvalers die Vierkleur, ZAR vlag by Paardekraal op 13 Desember 1880. Die Boere proklameer terselfdertyd ‘n republiek en stel die Volksraad weer in. Drie dae later breek die Eerste Vryheidsoorlog uit. Kommandant-Generaal Piet Joubert trek met 2 000 man na die Natalse grens om Generaal Sir George Colley en sy Britse mag af te sny. Hulle ruk op na Laingsnek waar hulle die Britse mag ontmoet. Op 28 Januarie 1881 het Colley Joubert aangeval maar na ‘n geveg wat nie eens ‘n uur geduur het nie moes Colley en sy manskappe terugval.

 

SLAG VAN MAJUBA

10 km Suid-oos van Volksrust op die Volksrust / Newcastle pad.

Gedurende die nag van 26 Februarie 1881 het Colley en 579 manne teen Majuba (Berg van die kransduiwe) by Laingsnek uitgeklim om sodoende ‘n beter uitsig oor die Boere te kry. Toe Generaal Joubert die volgende oggend die Britte op die horison gesien het, het hy glo gesê: "Daar zijn het Engelschen op den kop, julle gat hulle nou daar afhalen". 150 Boere het onder dekkingsvuur teen verskillende hange van die berg opgeklim. Die Engelse het paniekerig geraak en op vlug geslaan.

Colley is noodlottig gewond.

 

O’NEILL SO HISTORIESE KOTHUISIE

28 km Suid-oos van Volksrust op die Volksrust / Newcastle pad.

Colley se opvolger, Sir Evelyn Wood, het op 6 Maart 1881 ‘n wapenstilstand met Joubert onderteken by O’Neill se woning aan die voetheuwels van majuba. Die oorspronklike familiewoning van Eugene O’Neill was gedurende die Slag van Majuba as ‘n noodhospitaal vir die Engelse sodate gebruik. Baie van hul grafte is vandag nog op die terrein. Die huis is gerestoureer en huisves nou ou meubels en ‘n foto-uitstalling van die Anglo-Boere oorloë wat in die omgewing plaasgevind het. Die terrein is daagliks oop vir besoekers.

 

BOESMANTEKENINGE

Sowat 2 km te voet van O’Neill se kothuis af.

Onlangs is die aandag van die eienaar van Amajuba Bosbouery deur ‘n ou, bejaarde Bantoe gevestig op die Boesmantekeninge aan die voetheuwels van Amajuba. Die tekeninge is geleë onder ‘n oorhangende klip wat as skuilig vir die boesmans moes gedien het. Daar is onder andere tekeninge van ‘n erdvark, luiperd, slang, Boesmans en verskillende boksoorte.

 

KONVENSIEBRUG

Een en ‘n half km van Volksrust op die Newcastle pad, regoor die konsentrasiekamp.

Die historiese brug, tot Nasionale Historiese Gedenkwaardigheid verklaar, en wat toentertyd die ZAR met Natal verbind het was die middelpunt van belangrike samesprekings wat tussen 6 en 10 November 1884 tussen

Pres. Paul Kruger en Sir Henry Loch, goewerneur van die Kaapkolonie en Britse Hoëkommissaris van Zuid-Afrika, plaasgevind het.

Beide die Britse Hoëkommissaris en die ZAR President het geweier om oor die respektiewelike grense te gaan en die besprekings het in ‘n spoorwegwa wat presies in die middel van die brug gestaan het, plaasgevind. Die konverensietafel waarby hulle gesit het, het ook met twee pote in die Zuid-Afrikaansche Republiek en die ander twee in Natal gestaan. Die afbeelding van hierdie brug verskyn ook op die seël van die dorpsraad.

 

DIE KONSENTRASIEKAMP

Een en ‘n half kilometer van Volksrust op die Newcastle pad aan linkerkant.

Geleë aan Grensspruit, die grens tussen Transvaal en Natal is die Volksrust konsentrasiekamp in April 1901 opgerig. Hierdie kamp was een van die grootste konsentrasiekampe in Suid-Afrika, naas dié van Potchefstroom, Irene en Middelburg, en het die lewens van 772, meestal kinders, geëis.

                                     KONSENTRASIEKAMP GEDENKTEKEN

vroue monument.jpg (9529 bytes)

Voortrekker plein.

Hulde is gebring aan diegene wat hul lewens in hierdie kamp verloor het deurdat hul name verewig is in die graniet gedenkteken op die Voortrekker Plein, op die hoek van Joubertstraat in Volksrust. Die lyke van die vroue en kinders is in werklikheid hier her-begrawe.

 

VOLKSRUST STASIE EN DOEANNE GEBOU

Draai by Wimpy in Sarel Cilliersstraat in en volg pad tot by stasie.

Die ouderwetse Volksrust stasiegebou is in Desember 1895 voltooi en die rare sandsteengebou is vandag nog ten volle in gebruik. Die enigste oorspronklike Zuid-Afrikaanse Doeanne Kantoor vandag nog staande kan ook op hierdie perseel beskou word.

 

STOOMTREIN

Voortrekker Plein.

Die kleintydse bekoring en mistiek van ‘n stoomtrein ontgroei bitter min mense ooit en so ‘n stoomtrein kan besigtig word op die Voortrekkerplein in Joubertstraat, Volksrust. In 1937 is die elektrifisering van die spoorlyn tussen Durban en Volksrust voltooi en is die stoomtrein uitgefasseer.

Vir verdere inligting aangaande Volksrust se vele geskiedkundige besienswaardighede, skakel asseblief die volgende plaaslike Historiese Toergidse:

Petrus Schoeman : 01773 - 3707

Annatjie Pretorius : 01773 - 3579