WILLEM PRINSLOO LANDBOUMUSEUM
RAYTON
Die Museum is ongeveer 45 km van Pretoria op die N4-snelweg na Witbank geleë. Neem afrit 27 en volg die bordjies wat met 'n stoomtrekker aangedui word.
'n Besoek aan die Landboumuseum bied lafenis vir die gejaagdheid van die hedendaagse lewe en vul mens met nostalgie na die dae van weleer. Die Museum bied 'n unieke verskeidenheid fasiliteite vir die jeug, gesin, organisasies en sakemanne of persone wat sommer net in 'n rustige plaasatmosfeer wil ontspan.
Die Museum beskik oor die grootste versameling landbou-implemente, -toerusting, trekkers en rytuie van weleer in die land. 'n Nuwe moderne uitstalling oor die geskiedenis van landbou vanaf die Steentydperk tot c.1945 asook 'n uitstalling oor implemente wat deur diere getrek is, kan ook besigtig word.
Die woning op die Ou Werf dateer uit die tagtigerjare van die vorige eeu en kultuurdemonstrasies word op verskillende dae (behalwe Sondae) aangebied:
Die smidswinkelbedryf
Rieme insout, brei en sny
Swepe vleg
Brood bak in buite-bakoond
Klein koekies bak in ou plaaskombuis
Seep kook
Melk en room afskei
Vetkerse maak
Botter maak
Ganse pluk
Koffie brand en maal
Koeie melk tussen 09:30-10:00, naweke 07:30-08:00
Donkie draai die bakkiespomp
Osse ploeg
Perderitte
Skool- en volwasse groepe moet vooraf reël vir begeleiding en spesifieke demonstrasies.
Besprekings kan gedoen word om die nuut gerestoureerde 1913-Prinsloowoning te besoek. Dit was die eerste woonhuis van Lang Hans Prinsloo - oud LV vir Bronkhorstspruit.
Tant Miertjie se Kombuis is 'n aangename kuier restaurant waar veral Sondae eg tradisionele voorbereide boerekos voorgesit word. Boonop kan die gaste die heerlike maal met 'n snapsie van die Museum se eie mampoer, witblits of likeur afsluit, of 'n flessie langsaan by Tant Kotie se Kontantwinkel aanskaf.
Gedurende die week is heerlike tuisgebak en ligte maaltye ook beskikbaar. Die restaurant kan ook van Maandag tot Saterdag bespreek word vir boere-ontbyte, troues, onthale of personeelfunksies met 'n spyskaart van u eie keuse (tradisionele kos, braaivleis of spitbraaie).
Vir die buitelugliefhebbers is daar lieflike koeltebome en voldoende braaigeriewe. Daar is ook basiese geriewe vir woonwa-eienaars wat in 'n rustige plaasatmosfeer wil kom uitspan.
Die Museum beskik oor 'n mooi en goed toegeruste lesingslokaal met sitplek vir 90 konferensiegangers. Daar is faks- en kopieërgeriewe terwyl verversings in die aangrensende restaurant beskikbaar is.
Een van die grootste bates van hierdie fasiliteit is die rustige plaasatmosfeer en die onbeperkte gratis parkering wat beskikbaar is.
Lapakraal is 'n kampterrein wat grens aan die museumkompleks en historiewe werf. Dit is geskik vir skole en groepe wat aktiwiteite van kulturele of opvoedkundige aard wil aanbied. Die rustigheid maak dit ook 'n ideale vergaderplek vir 'n bosberaad of sommer 'n kuierplek vir die gesin.
Lapakraal beskik tans oor 10 kamers met elk 8 beddens. Elke kamer het 'n toilet, wasbak en stort - beddegoed ekstra. Nabygeleë is 'n eet/vergadersaal met 'n kombuis, stowe en yskaste. Die rietlapa met braaiplekke is 'n heerlike buitelug kuierplek na 'n dag se harde dinkskrum. Indien groepe nie self wil kosmaak nie kan die nodige reëlings met Tant Miertjie se Kombuis getref word. Daar is 'n pragtige swembad vir huurders van Lapakraal.
'n Besoek aann die Willem Prinsloo Landboumuseum is 'n verrykende en genotvolle ervaring. Besoek ons en vergewis uself.
Die Gerhard Schoemansaal kan gehuur word en is geskik vir troues, danse, matriekafskeidfunksies en ander spesiale geleenthede.
Ander aantreklikhede op die ou plaaswerf (naas die 1880 Prinsloowoning) sluit onder meer die smidswinkel, Ndebelehut en 'n piekniekterrein in. Daar is ook perdewaritte en perderitte daagliks beskikbaar.
Die museum het 'n lisensie om sy eie mampoer en witblits te stook en maak ook 'n verskeidenheid likeure met 'n witblitsbasis en dit is in Tant Kotie se Winkel te koop.
Daar is ook fasiliteite vir perdeklubs om hul byeenkomste te hou en 'n veeveilingskompleks vir veilings, boere-dae en ander verwante demonstrasies.
Die museum huisves 'n groot verskeidenheid inheems gedomestiseerde diererasse, onder meer:
12 tipes vetstertskape
Kolbroek en Windsnyervarke
Inheemse hoenderrasse
Inheemse beesrasse soos die Nguni, Afrikaner en Drakensbergers
Asook 'n Nooitgedachterstoet en Percheron trekperde
Museums is ook pret. Feeste lok jaarliks 'n groot aantal belangstellendes na die museum. Oujaarsaand word 'n lewendige informele skuurdans aangebied terwyl die Nasionale Kennetjiekampioenskappe ook jaarliks hier gehou word.
Datums: Turskvyfees: 31 Januarie 1998
Mampoerfees: 2 Mei 1998
Kennetjiekampioenskappe: 4 September 1998
Veteraan Trekkerkarnaval: 5 September 1998
Sosatiefees: 24 September 1998
Skuurdans: 31 Desember 1997
Sillabusgerigte opvoedkundige programme word ses dae 'n week aan bespreekte groepe aangebied.
Vars bakoondbrood kan vroegtydig vooraf bestel word. Minimum van 10 en maksimum van 20 brode teen R7,00 per brood.
Die standaard skoolprogram behandel temas soos: die bakkiepomp (water), rol van die bees, brandmerke, ganspluk, outydse speelgoed, kerse maak, die smidswinkel en Ndebelehut. Spesiale temas soos: besoedeling, water, lug, bome, ens. kan op versoek aangebied word.
Vir inligting oor ons spesiale skoleweke (23-27 Februarie 1998, 27 April-1 Mei, 24-29 Augustus en 7-11 September 1998) skakel Frances de Wet by die museum.
MUSEUMTYE: Daagliks 8:00-15:00
Toegang: R7,00 volwassenes
R3,50 kinders
Bespreekte groepe:
Maandag - Saterdag 09:30 - 15:00
(Spesiale reëlings vir Sondae)
R7,00 vir volwassenes
R5,00 vir kinders
Die volgende Voortrekkerkentekens word met voorafbespreking op Saterdae aangebied:
Plaaslewe
Ruiterkuns
Kultuurgoedere
Afrikanertradisies
Prys: R25 per kenteken
Navrae en besprekings vir die sale, lesingslokaal, Lapakraal of opvoedkundige rondleidings kan gerig word aan:
Willem Prinsloo Landboumuseum, Posbus 677, Rayton, 1000
Telefoonnommer: (01213) 44171/2
Faks: (01213) 44173
Restaurant: (01213) 44060