Ek het ’n huisie by die see

www.boerafrikana.com: Tuisblad >

Ek het ’n huisie by die see- H. A. Fagan (1889 - 1963)

Ek het ’n huisie by die see. Dis nag.
Ek hoor aaneen, aaneen die golwe slaan
teenaan die rots waarop my huisie staan
met al die oseaan se woeste krag.
Ek hoor die winde huil – ’n kreun, ’n klag,
soos van verlore siele in hul nood
al dwalend, klagend, wat in graf en dood
geen rus kon vind nie, maar nog soek en smag.

My vuurtjie brand, my kersie gee sy lig.
Ek hoor dan maar hoe loei die storm daar buite,
ek hoor hoe ruk die winde aan my ruite;
hier binne is dit veilig, warm en dig.

Kom nag, kom weer en wind, kom oseaan –
dit is ’n rots waarop my huisie staan.

bo-aan bladsy
Hoofblad | Web meester