|
Eerste Liefde
Ons liefde het gesterf met die oggendstond,
En ons het haar begrawe, bleek en stom;
teer lentegras en geurige voorjaarsgrond
bedek haar, sonder smuk van krans of blom.
Onthou jy haar?... Sy was tingerig-fyn,
met vingers slank en lig, haar stem was sag,
en haar blou wonder-oë vreemd en rein.
Haar dood was vreedsaam, sonder rougeklag.
Ek mag nie om haar ween: haar stil vertrek
was beter as 'n kwynende bestaan
- maar, ag, ek wonder of jy ooit, soos ek,
'n oomblik by haar graf in mym'ring staan...
|
|