Hugenote Monument

www.boerafrikana.com: Tuisblad > Foto Album

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

DIE Hugenote-monument op Franschhoek gedenk die Franse immigrante wat hulle veral 1688-’89, maar ook daarvoor en daarna,  aan die suidpunt van Afrika kom vestig het en wie se nasate baiemaal so ’n belangrike rol in ons geskiedenis gespeel het en hulle tot vandag toe laat geld. Afrikaners met vanne soos Du Toit, Du Plessis, Celliers, Rousseau, De Villiers, Roux, Joubert, Le Grange, Jordaan, Theron, ens. is almal van hul afstammelinge.

Die Hugenote-monument is op 7 April 1948 ingewy. Nadat mense gevra was om ontwerpe vir die beoogde monument voor te lê, is die eenvoudige maar treffende ontwerp van J.C. Jongens, ’n Nederlandse immigrant, aanvaar. Die drie hoë boë van die monument stel die Goddelike Drie-Eenheid voor—die Vader, Seun en Heilige Gees. Daar bo-op is die son van geregtigheid met op die bopunt die kruis wat die Hugenote se Christelike geloof voorstel.

Die beeld van die sentrale vrouefiguur is deur befaamde Suid-Afrikaanse beeldhouer  Coert Steynberg geskep. Sy versinnebeeld godsdiensvryheid deurdat sy ’n Bybel in haar een hand en ’n gebreekte ketting in haar ander hand vashou.

Die Hugenote wat hier gehuldig word, was minder as 200, slegs ’n Gideonsbendetjie as ’n mens hulle vergelyk met die meer as 400 000 Franse Hugenote wat vanweë hul Protestantse godsdiens vervolg is, uit Frankryk gevlug het en hulle elders ter wêreld gevestig het. Maar vir die jong Kaapse nedersetting was die sowat 200 destyds ’n aansienlike groep.

Teks erkenning aan: www.mieliestronk.co.za besoek 28 Desember 2014

3rd column
bo-aan bladsy
Hoofblad