Slagtersnek Rebellie
Vlag van Suid Afrika

Slagtersnek Rebellie

www.boerafrikana.com: Tuisblad >

Slagtersnek Rebellie Monument

Slagternek

Slagtersnek Monument

Die monument van Slagtersnek soos dit vandag daar uitsien.

Die Slagtersnek Rebellie verwys na ‘n boer in die Oos-Kaap, Johannes Bezuidenhout se kortstondige opstand teen die Britse bewind in die tydperk 1815-1816. Dit word ook as een van die redes vir die ontstaan van die Groot Trek beskou. Die naam Slagtersnek, waar die rebelle gevang is, is ontleen aan die Britse handelaars van Grahamstad wat hier bymekaar gekom het om die boere in die omgewing se slagdiere te koop.

Op ‘n plaas naby wat vandag as Somerset-Oos bekend is, het Frederik Bezuidenhout ‘n Khoikhoi-werker met die naam van Booi van diefstal verdink en sy loon teruggehou. Booi het Bezuidenhout gaan verkla van aanranding by die landdros op Graaff-Reinet. Bezuidenhout het twee keer geweier om voor die hof te verskyn en hy is in absentia tot een maand gevangenisstraf op 5 Oktober 1815 gevonnis. Die Britse regering wou graag hul gesag oor die boere in die verre oosgrens vertoon, en het ‘n mag van 12 Khoi-Khoi soldate, destyds Pandoere genoem, met ‘n blanke offisier op 16 Oktober 1815 na Bezuidenhout se plaas gestuur om hom in hegtenis te neem.

Bezuidenhout het hom verset en is deur een van die Khoi-Khoi soldate in ‘n skuiling tussen rotse op sy plaas doodgeskiet. Op sy begrafnis het sy broer Johannes Bezuidenhout wraak gesweer en saam met ‘n groep vriende het hy ‘n opstand teen die Britse regering in die Kaap beplan. Hulle wou die Britse regering en die Khoi-Khoi uit die Oos-Kaap verdryf. Hulle het die Xhosa hoofman Gaika (ook Ngqika genoem) vir hulp genader en aangebied dat hy die hele Zuurveld as betaling sou ontvang. Gaika het nie belang gestel nie.

Hendrik Prinsloo is kort daarna deur ‘n mag van 70, wat 40 Engelse soldate en 30 kommando lede ingesluit het, in hegtenis geneem. Die rebelle het onsuksesvol probeer om hom te ontset en ander boere in die omgewing gevra om by die opstand aan te sluit. Die rebelle het op 18 November 1815 aan die Britse mag by Slagtersnek oorgegee. Johannes Bezuidenhout het hom teen inhegtenisname verset en is ook doodgeskiet. ‘n Paar het verder oos na die Xhosas se land gevlug. Die ander is in hegtenis geneem en voor die hof gedaag.

32 rebelle is uit die Oos-Kaap verban en ses van die rebelle leiers word op 20 Januarie 1816 ter dood veroordeel op ‘n klag van hoogverrrad. Een, Willem Krugel, word later deur die Kaapse goewerneur, Lord Charles Somerset, begenadig. Op 9 Maart 1816 word Hendrik Frederik Prinsloo, Stephanus Cornelis Bothma, Cornelis Johannes Faber, Theunis Christiaan de Klerk en Abraham Carel Bothma in die openbaar gehang.

‘n Groot skare het gesien hoe die luike onder die mans weggehaal word en vier van die vyf galgtoue breek. Omstanders het gesmeek dat die mans begenadig moet word aangesien God die laksman wou teregwys, maar die Engelse offisier het bloot beveel dat die mans weer gehang moes word.

Die Bezuidenhouts het volkshelde geword en die gebruik van die Hottentot Pandoere om Bezuidenhout te skiet, het haatdraendheid by baie van die boere aan die Oosgrens teenoor die Britse bewind aan die Kaap laat oplaai. Die bitterheid wat hieruit ontstaan het, sou Afrikanernasionalisme aanwakker in die jare voor die Groot Trek.

Vanaardspos
Slagtersnek
Slagternek
Van Aardspos lê in 'n boog van die Groot Visrivier. Die foto kyk uit oor die moderne voortlewing van die oorspronklike opstal wat in die groen landerye regs van die teerpad lê. Die Slagtersnek galg het gestaan waar die fotograaf hom bevind, dus was daar 'n goeie uitsig oor Van Aardspos. Na die teregstelling is die balk waaraan die rebelle opgehand is, in die woonhuis op Van Aardspos ingebou. Die balk is in 1896 weer uitgehaal om Jameson en sy rebelle mee op te hang na die Jameson inval in die Transvaal. Dit is egter om vredeshalwe nooit gedoen nie.
Die Slagtersnek balk het vir baie jare van die toneel af verdwyn totdat dit in olangse jare weer in 'n museumkelder in Kaapstad opgespoor is. Vandag word daar onderhandel om die balk terug te bring na 'n plaaslike museum vir ten toonstelling.
Oorspronklike plek Slagtersnek is etlike kilometers verder noord van die plek van teregstelling, wat ietwat verkeerdelik Slagtersnek genoem is. 'n Grondpad loop oor die nek tussen die twee berge in die nabye voorgrond, en kan net-net op die foto uitgemaak word. Hier is die Slagtersnek rebelle deur die gereg aangekeer en tot oorgawe gedwing.
'n Nadere foto van die pad oor Slagtersnek waar die rebelle gevang is. Die naam Slagtersnek is ontleen aan die feit dat die Britse handelaars van Grahamstad hier bymekaargekom het om die pioniersboere se slagdiere te kom koop.
 

Peter Joice (ed): The South African Family Encyclopaedia. Struik, 1989

http://af.wikipedia.org/wiki/Slagtersnek-rebellie

Text is available under the Creative Commons Attribution/Share-Alike License; additional terms may apply. See Terms of Use for details

Fotos http://www.boervolk.com/forums/showthread.php?t=920 besoek 20 November 2010

bo-aan bladsy
Hoofblad